webmaster

Miscellaneous Items

from 2012

<  previous   next  >

Innibos laat ou Uys-stuk herrys ná 35 j.

– Anna-Retha Bouwer, Beeld, 15 June 2012


Toe sy drama Die Van Aardes van Grootoor op 26 November 1977 vir die eerste keer in Kaapstad se Baxter- teater opgevoer is, het Pieter-Dirk Uys nooit daaraan gedink dat ’n mens dit nog in 2012 op die planke sou sien nie.


“’n Mens dink nooit so daaraan nie,” sê hy. “Jy probeer maar van die een aand na die volgende oorleef!”


Dis die storie wat die toets van tyd deurstaan het, glo hy — die storie oor die Van Aardes wat so hard aan hul familiegrond probeer vasklou dat skandes gepleeg en onder die tafel ingeskuif is, net om weer dekades later kop uit te steek.


“Dit is ook die humor wat die hoeksteen is,” sê Uys. “Mense lag nog vir dieselfde goed.”


Die Van Aardes kry weer aan die einde van die maand lewe wanneer dit onder die regisseurshand van Albert Maritz op die Innibos-fees in Nelspruit opgevoer word.


In die rolverdeling van dié opdragproduksie is onder andere Anna-Mart van der Merwe, Marion Holm en Esther von Walts-leben.


In sy eerste gedaante is Die Van Aardes op die planke gebring toe sensuurwette nog sterk gegeld het.


Uys het in 2008 hierdie petalje beskryf in ’n rubriek in Beeld: “’n Vrou sonder liefde is soos ’n koek sonder ’n kers.’


Die apartheidsensors het hierdie sin verbied. Nie omdat die koek wit was, of die kers bruin nie. Dit was ‘totaal vieslik, onwelvoeglik, sieslik en teen die morele beginsels van Volk en Taal’.”


In hierdie rubriek het hy ook soos volg geskryf:


“Daar was nooit ware ou vloekwoorde in Die Van Aardes van Grootoor nie. Ons het die ooms voorgespring. In plaas van die gewone kragwoorde — soms die poësie van die Taal — het die karakters hul eie vloeke geskep: ‘O muistepel’, ‘O genotskrots’, ‘O slag-gat’, ‘O huil-hol’!”


“Die ooms was ontsteld.


“‘Genotskrots’ was onaanvaarbaar. Wat beteken dit dan, was ons vraag. ‘Ons het die woord self geskep en ons gaan julle nie vertel wat dit beteken nie.’


“Dit het gewerk.


“’n Professor-doktor met ’n graad en ’n bietjie ruggraat het gebrom: ‘Ja goed, maar julle mag dit nie weer doen nie.’”


“Is dit nie interessant as ’n mens die hele hedendaagse debakel met The Spear in gedagte hou nie,” sê Uys vandag.


“Goed het so baie verander dat dit eintlik weer dieselfde geword het. Elke nou en dan moet mense weer ’n optog hou sodat almal net opnuut kan besef hoe stupid is hierdie sensuur.”


Maritz sê tussen repetisies deur hy verander nie veel aan Uys se teks nie.


“Dit is eintlik skrikwekkend hoe relevant dit nog is. Mag korrupteer en geld is vuil. Daar kom wonderlike eggo’s uit die oorspronklike teks wat vandag nog net so relevant is.”


Maritz het groot lof vir die akteurs saam met wie hy werk, en sê hulle lag baie tussen die harde voorbereiding deur.


“Dit is nie ’n maklike teks om op te voer nie. Daar is ongelooflik baie detail.”


Oor die slim manier waarop Uys en sy produksiespan destyds verby die dik brille van die sensors geglip het, sê Maritz: “Dit is ongelooflik hoe kreatief hulle was. En ook baie braaf.”


-Vertonings van Die Van Aardes van Grootoor is op Dinsdag 26 Junie om 18:00, Woensdag 27 Junie om 11:00, Donderdag 28 Junie om 11:00, Vrydag 29 Junie om 15:00 en Saterdag 30 Junie om 15:00 in die Nelspruit Stadsteater.

<  previous   next  >   


top