webmaster

Archived 2012 Articles

 by

Pieter-Dirk Uys

next  >

Altyd êrens ‘n Kleinhoop!

Die geeste van inspirasie sweef rond soos mis om die aarde, skryf Pieter-Dirk Uys

– Pieter-Dirk Uys, Beeld, 15 January 2012


Soms sê mense vir my: Ek weet nie waaroor om te skryf nie. Dan behoort ek te antwoord: Dankie Vader, ons het genoeg skrywers. Doen iets die moeite werd. Word ‘n verpleegster, of ‘n onderwyser. Jy sal meer mense se lewens red.


Maar as jy wil skryf, ontspan. Dis nie jou keuse nie.


Die draak van ontginning het jou klein hik van talent bespeur en sal jou verslind, jou in sy bloedige bek deur die donker gange van sweet en drang sleep, todat jy eendag uitgeput en oorgewig sit met ’n boek in jou hand en die naam op die voorblad is joune.


En jy ken dit nie, want dit was nie jou storie nie. Jy was net die pen, die kortskrif, die skrywer.


Die geeste van inspirasie sweef rond soos mis om die aarde. Jy wil skryf.  Jy dink jy kan skryf. (Jy behoort van beter te weet, maar never mind.)


Sit reg en wag vir die weerligstraal. Die idee sal jou vind. Die enigste ding wat in sy pad sal lê, is Ego.


Sluk daardie “ek” soos Enos Fruit Salts en kry dit uit waar dit nie gevaarlik kan wees nie.


Daar is meer inspirasie daarbuite as olie, gas, goud, uraan, humor, hulp of heiligheid.


Daar is biljoene inspirasies wat elke sekonde van jou lewe by jou venster verby vlieg.


Dink net aan al die komponiste: van Mozart, Bach, Beethoven, Sibilius, Stravinsky.


Nou val jou oor op die duisende ander, tot die moderne leksikon van die Beatles, Gershwin, Sondheim, Weill. Van hip-hop, jazz tot tjang-a-lang en Nkosi Sikelela.


Dink aan die skrywers:  Shakespeare, Goethe, Schiller — net om die paar te noem wat my klein denklaai vul.


Dan is daar die blomme, voëls, vliegtuie, kaal dinge, geklede goed ensovoorts.


Loer na die mense om jou. Jou familie. Jou ma en pa. Ander se oom en tannie.  Jou onderwyser met die blonde hare. Jou spanmaat met die blonde hare. Jou verloofde met die blonde hare.


Die swart vrou met die glimlag. Inspirasie.


Ons is nie diere nie. Ons is nie goggas, of gras, of oseane se winde nie.


Ons is net elkeen iemand spesiaal, net so bang soos almal, net so maklik siek of sat, vet of maer, swart of wit, hom of haar.


Maar elkeen het sy unieke stuk doek waarop daardie inspirasie uitgebeeld kan word, soos ‘n Da Vinci, ‘n Picasso, ‘n Kleinhoop.


Nou vra jy in jou wysheid: Wie is Kleinhoop? Wie weet? Daar is altyd êrens ‘n Kleinhoop. Kyk na jou kind. Inspireer daar. ‘n Kleinhoop kan so gou ‘n Grootberg word.

next  >


top