Home About Events Issues Plays Memoirs Articles Interviews Reviews Video Photos Archives
Articles about
Pieter-Dirk Uys

webmaster

(additional articles about PDU can be found in the Archives)

   next  >

Pieter-Dirk Uys: Terminale optimis

Pieter-Dirk Uys, soveel meer as net die skepper van die baie gewilde, uitgesproke Evita Bezuidenhout, word vandeesmaand met die Hertzogprys vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse drama. Ons het saam met hom gaan koffie drink

– Ilse Salzwedel, Rooi Rose, 1 November 2018

 

Akteur, komediant, skrywer, aktivis — en die man agter een van Suid-Afrika se mees ikoniese (én mees uitgesproke) openbare figure, Evita Bezuidenhout. Dis Pieter-Dirk Uys.

 

Watter titel verkies hy, vra ek oor ’n Saterdagmiddagkoffie in Melville. “Nie een nie. Ek dink die woord ‘ entertainer’ som die beste op wie en wat ek is.”

 

Interessant genoeg wou hy onderwyser eerder as akteur word. “Ek het nie eens gedink dis ’n moontlikheid nie, maar ek het in my siel geweet ek gaan iets doen wat oorspronklik is.”

 

Al plek waar hy ooit dramaties geraak het, was met sy gekskeerdery op huiskonserte.

 

Ná sy eerste jaar as B.A.-student met geskiedenis en Engels as hoofvakke, het sy ouers (albei professionele musici, nes sy pianissuster, Tessa) hom oorsee gestuur om die wêreld ’n bietjie te gaan ontdek. In Londen se Old Vic-teater het hy sir Laurence Olivier in Othello in aksie gesien, en die verwondering om Who’s afraid of Virginia Wolf daar in Londen te kon beleef, bly hom tot vandag toe by. “Kan jy glo?” vra hy, die verwondering steeds in sy stem.

 

Die verhoog vir die res van sy lewe was gereed, maar die gordyne steeds toegetrek. Maar ’n geselsie met ’n dramastudent in die kafeteria tydens die registrasieweek vir sy tweede jaar, het hom na die dramadepartement gelok waar hy summier ingeskryf het.

 

Vyf en ’n bietjie dekades later is sy optrede-dagboek steeds vol. Tussen September en Nuwejaar wag nog 71 vertonings, en die meeste Sondae is hy op sy pos by Evita se Perron op Darling vir ’n vertoning daar. En dit ondanks die dramadosente destyds se verdoemende uitspraak dat hy geen talent het nie.

 

“Prof. Rosalie van der Gucht, hoof van die dramadepartement, het reguit gesê: ‘ You’re very feeble; you have no talent.’ Toe dog ek: Jou donnerse ou vrou!” Toe hy haar jare later aan haar woorde herinner, het sy droogweg geantwoord: “Well, it worked!” Vandag is hy bly hy is destyds as verhoogbestuurder eerder as akteur opgelei. “Dis die heel beste agtergrond vir enige teaterpersoon.”

 

Al het hy “instinktief” op die verhoog beland, onthou hy steeds die stuk waarin hy in sy tweede jaar opgetree het. “Dit was só lekker, en die mense het gelag. Ek het nog nooit teruggekyk nie.” Hy glo teater kies jou — nie andersom nie. “Dis life imprisonment without parole.”

 

Met ’n dramagraad in die sak is hy sak en pak Engeland toe. Met die verhoognaam Peter Ace, want die Britte sou nooit hul tonge kon draai om Pieter-Dirk Uys nie. Ná twee jaar as student by die Londense Filmskool is hy op die personeel aangestel, en sy toekoms was rooskleurig.

 

“Ek het ’n union ticket gehad en my eerste drama geskryf. Toe stuur ’n pêl uit Kaapstad vir my as ’n grap ’n kasset met Mimi Coertse wat volksliedjies sing.” Maar hy het nie gelag nie. Inteendeel. “Toe sy ‘O, Boereplaas’ sing, het ek drie dae lank gehuil en op ’n boot geklim, terug huis toe. In Januarie 1973 was ek weer in die Kaap. Waar ek behoort.”

 

Ons gesels ’n week of twee voordat die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys amptelik aan hom oorhandig. Sy aanvaardingstoespraak is geskryf, maar hy bieg dat hy steeds effens oorbluf is oor die eer. “Ek het nooit gedink dit sou gebeur nie, want destyds was al die Afrikaanse kultuurinstellings in die vyand se kamp. Die Hertzogprys was ’n Broederbond-geskenk. Ek en die Akademie het nooit om dieselfde woordeboek gesit nie. Maar nou is al my ou vyande dood en die jonger lede van die Akademie noem my oom en gee my ’n prys. Wie sou dit gedink het ...”

 

Hy het inderdaad destyds die Broeders se hare behoorlik laat regopstaan. Nie net met sy politieke satire en tannie Evita nie, maar veral ook met die dramas wat hy destyds geskryf het.

 

“Dis nogal ironies dat ek juis nou vereer word vir vyf dramas wat destyds as ‘onwelvoeglik, onbetaamlik, on-Afrikaans en vieslik’ beskryf is en verbied is.”

 

Hy het nie beplan om drama as politieke wapen in te span nie. “Eintlik wou ek net my pa die hel in maak,” erken hy. En die dominee, en die ooms en die tannies, natuurlik. Dit kon hy maklik regkry deur genoeg skurwe woorde op die verhoog te gebruik.

 

“Die politiek het maar derde gekom in die ry van vloekwoorde. Maar toe ek eers drama aanvaar het as suurstof … Dit wat ek uit al die toneelstukke van die verskillende eeue geleer het, die stories van man’s inhumanity to man, het my laat besef die paradys van afsonderlike ontwikkeling was nie normaal nie. Ek het ook toe ontdek watter wonderlike wapen humor was teen arrogansie en domastrantheid. Toe was ‘apartheid’ die enigste vloekwoord wat ek op die verhoog gebruik het.”

 

In 1974 is sy eerste drama verbied by die Ruimte-teater, en daarna is al sy Afrikaanse werk deur die regering gestop. Toe skep hy Tannie Evita. “Die Nasionale Party was haar lewe en passie

 

“Dit was 1978, en al werk wat ek gehad het, was ’n weeklikse rubriek in die Sunday Express,” onthou hy. “Vir die rubriek het ek ’n Afrikaanse tannie geskep wat eenkeer ’n maand op ’n partytjie in Pretoria al die drama om die Inligting skandaal kon uitlap met’ n‘ Skattie, het jy gehoor ?’ Die redakteur van die koerant het haar die Evita van Pretoria genoem.”

 

Die volgende logiese stap was om Evita verhoog toe te neem, en in sy eerste eenmansvertoning Adapt or Dye het hy die rol van die tannie op die verhoog gespeel. “Hulle het nie geweet wie om op te sluit nie,” lag hy. Pieter-Dirk het nie net die omies van die regering ontstig met wat Evita kwytgeraak het nie, maar ook deur die blote feit dat hy in vroueklere opgetree het. “Dit was mos destyds teen die wet, weet jy? Toe dog ek welakepela … ” giggel hy.

 

Hy vertel van die ongeskikte Afrikaanse verslaggewer wat hom eendag gekonfronteer het met die stelling “maar jy is mos ’n moffie”. Toe sê die vreeslose Pieter-Dirk vir hom ja, maar net Dinsdae en Donderdae, en rits ’n lys goed af van wie en wat hy op ander dae van die week is. “Toe bars die ou so half geskok uit van die lag en die ys is gebreek. Maar my punt was duidelik: ek kies wat ek wil wees.”

 

Hy het vroeg al geleer om sy vyande nie met woorde nie, maar met humor te konfronteer. “Ons Suid-Afrikaners kan darem baie snaaks wees.”

 

Nie dat sy lewe een grap na die ander was nie. Die NP-regering het hom wel probeer intimideer en op verskillende maniere gedreig. “Maar dan sê ek dit van die verhoog af en die gehoor lag, want hulle dink ek spot. En dan lag ek maar saam. Dit het my geleer om vir my vrese te lag.”

 

Hy het baie respek vir tannie Evita, en van die begin af was sy plan om van haar ’n driedimensionele werklikheid te maak.

 

“Ek het altyd gesê women must recognise the woman, en men must not see the man. Evita het nie net uitgevaar nie, maar het ook hoop gebring.” En sy het tred gehou met die veranderende tye. “Deesdae is sy ’n lid van die ANC, maar dit keer haar nie om te praat oor alles wat verkeerd is in die ANC nie.” (Evita kon nie saamkom na ons onderhoud nie, want sy was juis in Luthuli-huis se kombuis, besig om vir Cyril Ramaphosa ’n heerlike ete te kook sodat hulle ’n bietjie oor versoening en sy New Dawn kan praat.)

 

Hoekom is Evita nog altyd toegelaat om te sê wat niemand anders kon waag om van ’n verhoog af te sê nie? “Jy moet onthou, tannie Evita was glad nie ’n Pieter-Dirk Uys- fan nie. Sy was ’n lid van die NP, en die eerste een wat destyds vir die NP-regering gesê het: sluit hom op, verban sy werk. Sy was seker maar my get out of jail free- kaart. Haar humor het onder mense se naels ingekruip, want sy het sonder venyn geoordeel oor alles wat verkeerd was. Wyle Piet Koornhof was ’n Evita- fan, kan jy glo? En Pik Botha het begin glo hy is verlief op Evita — hy het selfs vir haar sulke lang, stroperige fakse gestuur. Die gemompel van ’n ‘moffie in ’n rok’ wat soms opgegaan het, was alles maar selfbeskerming.”

 

Maar hoe het hy wat Pieter-Dirk is, die verbanning van sy werk hanteer? “Ek het die destydse Publikasieraad in my eie PRdepartement omskep. Hulle publisiteit het my baie gehelp. Ek het hulle aanvalle in komedie omskep en dan het almal vir hulle gelag. Daar was soms selfs politici in die gehoor. Ek was gelukkig — ek was wit en kon dit doen. As ek swart was, sou ek maklik gestop kon word. Die grootste gevaar vir my destyds — en weer vandag — is self-sensuur. Ek moes my vrees met die wapen van humor beveg.”

 

En hoe voel hy oor die nuwe Suid-Afrika waaroor tannie Evita so uitgesproke is dat party ANC-hooggeplaastes al ’n bietjie gebrom het? “Ons moet eenvoudig bly glo dat alles sal uitwerk. Ons almal — wit, swart, bruin, Indiër — se vingerafdrukke is op daardie silwer beker van demokrasie. En ná 24 jaar het ons steeds ’n suksesvolle demokrasie, al voel dit nie aldag so nie. Ons het steeds vryheid van spraak, en daar is ’n oopheid, ’n vryheid. Ons het enorme probleme, maar ook talle goeie mense in al die politieke partye en genoeg antwoorde vir al die probleme.”

 

As hy wel onderwyser geword het destyds, sou hy nou op 73 al afgetree gewees het. Maar hy werk onverpoosd. Sal hy ooit aftree? “Jy moet onthou, ek is al sedert 1975 amptelik werkloos. Daar is geen fabriek of besigheid of entourage agter my nie. As ek niks doen nie, gebeur niks. Maar as ek iets doen, is enigiets moontlik. Dus is my werk nie regtig werk nie — dis lewe.”

 

Wat het die lewe die man geleer wat homself as ’n “terminale optimis” beskryf ? “Werk, werk, werk, werk. Beplan. Dissipline. Luister. Bly optimisties. Don’t suffer fools gladly. Verwerk jou woede oor die politiek in vermaak sodat mense vir hul vrees lag. Dan maak jy daardie vrees minder vreeslik. Gee jou vrees ’n naam. Moenie wegkyk nie. Ná 24 jaar van demokrasie kan ek net daagliks dankie sê vir die generosity of a black majority who could have been very angry. Soos aartsbiskop Tutu altyd sê: ‘ Love your enemy; it will ruin his reputation.’”

 

By die huis op Darling, waar hy al 23 jaar woon, is hy net Pieter-Dirk. Daar tussen sy katte en honde wat hom soveel vreugde gee, en saam met sy lewensmaat van die afgelope twaalf jaar. Daar maak die son wat elke dag opkom, hom bly. En die slegte nuus wat nog te veel kere opduik, maak hom kwaad. “Maar ’n kat op my skoot maak alles beter.”

 

Wat wil hy nog alles aanpak? “Môre. Ek wil môre aanpak. Vroeër in my lewe het my jaar altyd uit 365 dae bestaan. Deesdae bestaan dit net uit twee dae: vandag en môre. As ek vandag reg doen, is môre net lekker.”

 

• Lees ook ons onderhoud met Tannie Evita by rooirose.co.za

 next  >

 

top