webmaster

next >

10 Vrae: Pieter-Dirk Uys

–  Beeld, Die Burger, Volksblad, 17 Januarie 2014


1. Watter vraag word jy die meeste gevra?


V: “Gaan slaap jy saans in Evita se nagklere?”


PDU: Gaan die diepseeduiker slaap in sy duikpak?


2. Waaroor gaan Adapt or Fly?


’n Terugkyk na gister se swart en wit en vandag se grys; om môre se reënboog met humor te beskerm.


Die komende verkiesing is ook ’n rooi streep waaroor almal moet struikel, hopelik met optimisme en ’n agtergrond van kennis.


3. Waarheen is satire op pad?


Satire was in die 1960’s ’n woord om die absurde wêreld deur absurde humor te beskryf. Die wêreld was toe relatief normaal; die hanswors het pers hare gedra. Vandag is die wêreld stapelgek en die hanswors moet hiperrealisties optree. Ek wonder self waarheen satire op pad is as ek kyk na die inspirasie agter ons satire – te veel derderangse mense met vierderangse idees.


Maar solank ons kan lag vir ons vrees is daar hoop. Ook vir hansworse!


4. Watter vrese het jy waarvoor jy probeer lag?


Dat ek nooit ’n persoon se naam kan onthou nie en daardie onbeskoftheid verberg deur almal darling te noem.


5. Wat is jou voorneme vir 2014?


Om die jaar nie te sien as 365 dae nie, maar twee: vandag en môre.


6. Boe of poo gooi?


Boe en poo help glad nie. Die een maak geraas en die ander maak stank.


’n Makliker en beter manier van protesteer is om te stem.


7. Wat dink jy gaan in vanjaar se algemene verkiesing gebeur?


Een van twee dinge: Ons gaan ons demokrasie verryk met ’n balans van politieke sieninge en energie of ons gaan deur agterlosigheid en luiheid die land verloor.


8. Wat droom jy sal in die verkiesing gebeur?


Dat al die jong, nuwe kiesers besef hulle stem is oor hul lewe, hul toekoms, hul drome en nie net oor vrot politiek nie. Laat die mense lei en regering sal volg.


9. Wat is jou grootste skelm bederfie?


Ek kyk k*k TV om lekker daardeur te slaap.


10. As jy hierdie vrae moes opstel, wat sou jy vir jouself gevra het?


V: Wat is die belaglikste ding wat jy oor jouself geheim hou?


PDU: Dat as ek in die swembad staan met water tot by my ken, en dit begin reën, klim ek vinnig uit, want ek wil nie nat word nie!


    • Satirikus Pieter-Dirk Uys se eenmanstuk Adapt or Fly is tans in die Kaap se Theatre on the Bay te sien.

next >

top

ARCHIVED

INTERVIEWS

from 2014