webmaster

K-woorde in Uys se vertoning skok

KKNK: Konsertgangers loop uit

– Jackie Kruger, Die Burger, 27 March 2019


Kru taal en die gebruik van die k-woord het blykbaar daartoe gelei dat talle mense Maandagaand by Pieter-Dirk Uys se eenmanvertoning Die Poggenpoels praat op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn uitgestap het.


Die komedie is slegs vir een aand in die Absa-burgersentrum opgevoer. In ’n verklaring oor die komedie op die KKNK se webtuiste staan onder meer: “Die Poggenpoels uit Bethlehem, Vrystaat, was al by die KKNK. Ouma Ossewania Kakebenia het haar storie nog in die vorige eeu kom deel, en haar dogter, Evangelie, was al ’n paar keer by die fees in haar gedaante as Evita Bezuidenhout.


“Hulle is nou albei terug om die 25ste fees saam te vier. Ouma Ossewania, nou beslis oor die 100 jaar oud, is de hel in oor die politiek, die ouetehuis en die verlede. Ouma Ossewania praat vuil!


“Evita Bezuidenhout, nou lid van die ANC en steeds die bekendste wit vrou in SuidAfrika, se fokus is op 2019 se algemene verkiesing. Ja-nee, tannie Evita praat kaktus! Wees gewaarsku: Vryheid van spraak seëvier op die vlaktes, en die waarheid sal uit!”


Volgens die verklaring word niemand onder 12 toegelaat nie en daar is waarskuwings oor seks (S) en taal (T).


Feesgangers wat die vertoning Maandagaand om 18:30 bygewoon het, het gesê omtrent ’n kwart van die mense het ná sowat 20 minute uitgestap. Volgens die feesgangers is die k-woord herhaaldelik gebruik en is ook glo gesê “hulle steel net”. Die Here se naam is ydellik gebruik en daar is in kru taal na mans en vrou se geslagsdele verwys.


Volgens die feesgangers was die taalgebruik vulgêr en onsmaaklik.


“Mense word in die tronk gestop as hulle die k-woord gebruik en ons probeer juis om oor rassisme te kom,” het van hulle gesê.


Die KKNK-organiseerders sê by navraag hulle is bewus dat daar kru taal was, maar geen amptelike klagtes oor die vertoning is by die feeskantoor ingedien nie.


Die KKNK loop vandag ten einde.


_______________________________________


REAKSIE OP GEHOOR SE REAKSIE


Ek neem kennis van die berig dat 'kru taal en die gebruik van die k-woord' daartoe gelei het dat talle mense Maandagaand by my opvoering van Die Poggenpoels praat (en Ouma Ossewania praat vuil) op die KKNK uitgeloop het. Die titel van die stuk soos aangekondig het sekerlik vir hulle vroeg gewaarsku.


Evita se moeder, Ouma Ossewanie, is 119 jaar oud en haar lewe hier op die verhoog uitgebeeld, verteenwoordig 'n tydperk in ons geskiedenis in haar monoloog van herinnerings, vooroordeel, rassisme, liefdes en haat. En soos sy bieg: 'Ek vloek nooit as ek praat nie. Net as ek dink. Soos nou.' En ja, sy gebruik taal wat nie uit die mond van 'n Christen Afrikaner tannie in die publiek verwag word nie.


Kru-taal is deel van die Afrikaner se kultuur. Ek persoonlik, na jare van ondervinding van sensuur en kritiek, beskou daardie kragwoorde nie as vloeke nie, maar eerder as 'n soort poesie (met twee dotjies op die e!)


Baie k-woorde is in die monoloog geuiter. Watter een het mense aanstoot gegee? Kommunis? Katoliek? Kak?


Die KKNK program het duidelik gestel dat niemand onder 12 by die vertoning toegelaat is nie en daar was waarskuwings oor seks (S) en taal (T). Na 40 jaar in die besigheid van vermaak, neem ek aan dat meeste lede van my gehoor weet hoe ek my material hanteer sonder self-sensuur of vrees vir negatiewe reaksies. Alle reaksies in die teater is waardevol en ek is bly om te weet dat diegene wat die saal verlaat het, goed geluister het. Jammer hulle het die hele monoloog gehoor nie. Baie kinkels word teen die einde uitgestryk.


Ek sien uit na die volgende opvoerings met Ouma se monoloog van onthou en onthul by ander feeste waar die wonder van ons Afrikaanse taal op menigte vlakke gevier sal word.


Pieter-Dirk Uys

_______________________________________


Uys: ‘Kru taal is deel van ons kultuur’

– Jackie Kruger, Die Burger, 28 March 2019


Ná 40 jaar in die vermaakbedryf neem hy aan dat die meeste lede van sy gehoor weet hoe hy sy materiaal hanteer — sonder selfsensuur of vrees vir negatiewe reaksie.


Só skryf Pieter-Dirk Uys onder meer in reaksie op talle mense wat Maandagaand by sy opvoering Die Poggenpoels praat (en Ouma Ossewania praat vuil) op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn uitgestap het.


Van die gehoorlede het vroeër gesê hulle het uitgestap oor die kru taal en die gebruik van die k-woord.


Uys skryf: “Ek neem kennis van die berig dat ‘kru taal en die gebruik van die k-woord’ daartoe gelei het dat talle mense Maandagaand by my opvoering van Die Poggenpoels praat (en Ouma Ossewania praat vuil) op die KKNK uitgeloop het. Die titel van die stuk soos aangekondig het sekerlik vir hulle vroeg gewaarsku.


“Evita se moeder, Ouma Ossewania, is 119 jaar oud en haar lewe soos hier op die verhoog uitgebeeld


verteenwoordig ’n tydperk in ons geskiedenis in haar monoloog van herinnerings, vooroordeel, rassisme, liefdes en haat.


“En soos sy bieg: ‘Ek vloek nooit as ek praat nie. Net as ek dink. Soos nou.’ En ja, sy gebruik taal wat nie uit die mond van ’n Christen- Afrikaner-tannie in die publiek verwag word nie.


“Kru taal is deel van die Afrikaner se kultuur. Ek persoonlik, ná jare van ondervinding van sensuur en kritiek, beskou daardie kragwoorde nie as vloek nie, maar eerder as ’n soort poësie (met twee dotjies op die e.)


“Baie k-woorde is in die monoloog geuiter. Watter een het mense aanstoot gegee? Kommunis? Katoliek? Kak?


“Die KKNK-program het duidelik gestel dat niemand onder 12 by die vertoning toegelaat word nie en daar was waarskuwings oor seks (S) en taal (T). Ná 40 jaar in die besigheid van vermaak neem ek aan dat die meeste lede van my gehoor weet hoe ek my materiaal hanteer. Alle reaksie in die teater is waardevol en ek is bly om te weet dat diegene wat die saal verlaat het, goed geluister het.


“Jammer hulle het die hele monoloog nie gehoor nie. Baie kinkels word teen die einde uitgestryk.


“Ek sien uit na die volgende opvoerings met Ouma se monoloog van onthou en onthul by ander feeste waar die wonder van ons Afrikaanse taal op menigte vlakke gevier sal word.”


Die KKNK-organiseerders het vroeër gesê hulle is daarvan bewus dat daar kru taal was, maar geen amptelike klagtes oor die vertoning is by die feeskantoor ingedien nie.


Die KKNK het gister ten einde geloop.


_______________________________________


Sies, Pieter-Dirk Uys!

– Volksblad 30 Mar 2019


▶ Uys vulgêr op KKNK: Ek kan nie glo enigiemand woon sy optredes uit vrye wil by nie. Mag hy sulke woorde gebruik sonder optrede teen hom? God is heilig. Hy sal nog rekenskap moet gee. – Thys, Senekal


▶ Pieter-Dirk Uys meen kru taal is deel van die Afrikaner se kultuur. Watter kru vermetelheid om so namens ons almal te praat! Ek is deur en deur Afrikaans en gebruik, soos my familie en vriende, geen kru taal nie. – Goed opgevoede Afrikaner


_______________________________________


Waarom is vuil taalgebruik nodig, Pieter-Dirk?

– Die Burger6 Apr 2019


Ek lees Pieter-Dirk Uys is al weer op sy ou pad met vuil taalgebruik. Ek het jare gelede ’n vertoning van hom bygewoon, en besluit dat sy soort opvoering net vir sekere gehore bedoel is.


Dat daar waarde is in die boodskap wat Uys poog om te bring is somtyds seker waar, maar omdat hy onseker is of sy mening deur ’n gehoor as belangrik, nuut of nuuswaardig onthou sal word, tooi hy sy bewoording met vieslikheid. Dink hy regtig dat die normale mens sulke taal in die gewone gang van die lewe gebruik?


Probeer hy met agterplaas-taktiek mense se aandag te trek of te behou? Watter boodskap beeld hy uit aan die jongmense van ons land?


Dis tog bloot net die skaamtelose en gevoellose aandagsoekers wat dit noodsaaklik vind om met ’n gevloek sy standpunt te stel.


Het hy die oortuiging van sy gemoed om sy riool-aanbiedings op te dra aan enige gehoor, of sal hy dit net doen vir sensasiesoekers wat agterna net die gevloek sal onthou en dit skaam-skaam sal oordra net aan nabye vriende wat agter hul hand sal lag? Sal Uys se gehoor sy opvoering aan ordentlike toehoorders herhaal?


Die sukses van kuns lê nie daarin om goedkoop en walglik te wees nie, dit lê eerder in die diepte en langdurige waarde wat dit bied.


Dit kom voor asof Uys se stories nou opgeraak het en dat sy vervelige retoriek nie meer oorspronklik is nie. Daarom laai hy sy opvoering met skok. Die ergste is dat hy sy taalgebruik verdedig asof hy ’n gerespekteerde kunstenaar is wat aansien by die opgevoede publiek geniet.


Danie Pienaar, Strand

_______________________________________


Aan die Redakteur:


Ek is so geinspireer danksy die talle Afrikaners wat so woedend in Die Burger reageer op my onlangse vertoning van Ouma Ossewania Praat Vuil by die KKNK. Dankie tog mense luister nog. Jammer hulle storm dan uit na 10 minute, want daar is nog 60 minute wat hulle met net so veel passie sal geniet; vermaak sonder vloekwoorde, of soos hulle sê: kru taal. Die taal is Afrikaans en die variasies van emosionele beskrywings wissel van die verheerlikings tot vervloekings.


Ouma sê mos binne ‘n paar minute, na die eerste f-woord: ‘Ek vloek mos nooit as ek praat nie; net as ek dink — soos nou.’ Hoe sal ek dan so ‘n ikoon van ons volk verneder deur verkeerde woorde in haar uitings te plaas, soos landmyne in ‘n speelgrond? Ouma Ossewania is tydens die Boere-oorlog gebore. Sy’s grootgemaak as Nasionalis en Calvinis. Lid van die Vrouelandbouvereeninging en Aksie Morele Standaarde, en nou erelid van die SHB: die Steve Hofmeyr Beweging. Sy ken ook te veel dominees om ooit ‘n kragwoord te laat hoor. Maar hoe beskryf ‘n volksmoeder, wat nou aan die einde van haar lewe is, haar gevoelens as sy besef sy’t haar jare gemors? Soos so baie in ons land, het sy daardie leuen geglo en nou besef sy: nee, apartheid was nie ‘n God-gegeweg gawe nie.


Sy moet nou versigtig herdink voordat sy praat, want baie van die ou beskrywings is nou die viruses van rassisme. Dit maak haar nog banger want sy is grootgemaak met die woorde van vooroordeel in haar mond: die k-woord, h-woord, m-woord en daardie f-woord (wat ek altyd met ‘n v gespel het, tot ‘n tikster in die Publikasieraad se kantoor vir my mooi geskryf het: Meneer Uys, u spel die woord Fok met ‘n F en nie ‘n V nie.)


Mevrou Ossewania Kakebenia Poggenpoel is ook die moeder van twee fabelagtige dogters nou wereldberoemd as Evita Bezuidenhout en Bambi Kellermann. Ouma se kleindogter is getroud aan ‘n man van kleur. Haar kleinkinders is sonbrand-bruin. Haar land is uniek met sy kommunistiese party met planne vir die toekoms. Haar taal word verkleineer deur sogenaamde satiriste wat kru woorde gebruik om kruer politek uit te beeld. Die universiteite van die Taal praat nou Engels. Dis alles genoeg om enige ou boeremêns te laat vloek!


Ouma Ossewania kom al saam met my trekwaens van belaglikeid sedert 1992. Niks nuuts daar nie, behalwe dat alles vandag anders is. Die velle is van die wonde afgeruk. Die beskerming van geloof is flou. Die hoop vir môre is leeg. En daarom is Ouma se klaaglied ‘n belangrike wakkerword kielie-en-klap om op te hou met onbelangrike en nuttelose verset met woorde soos sies en kru en skande, en luister na die jonger geslag wat net kan lag vir al ons oumêns k*k.


Ouma is tans in haar Voortrekkerwa op pad na ander kultuurfeeste. Laat haar verwoede ou aanhangers hul pensioengeld spaar om te kom kyk en luister na iemand wat wel hulself kan weerspieël: ‘n deeglike gelowige Afrikaanse tannie wat nooit vloek as sy praat nie, net as sy dink. Kom dink saam.


Pieter-Dirk Uys

Darling

top

FREEDOM OF SPEECH

AND EXPRESSION

articles from 2019