webmaster

Archived 2015 Articles about  Pieter-Dirk Uys

 next >

Pieter-Dirk Uys en Marthinus Basson gesels

Aan die vooraand van 70 werk ons “nasionale skattie” Pieter-Dirk Uys aan drie nuwe produksies. Laetitia Pople berig oor ’n gesprek tussen Marthinus Basson en die satirikus.

– Laetitia Pople, Nerwerk24, 10 Maart 2015


‘Ag, Pietertjie, wat gaan van jou word?” het een van die satirikus, dramaturg en skrywer Pieter-Dirk Uys se oumas destyds gevra. Uys kom uit ’n sterk musikale gesin, maar was self te lui vir oefen en dit was die aand huiskonsert in die Uys-huishouding.


Die jonge Uys besluit net daar om dít te word wat niemand hom kon namaak nie. ’n Geliefde satirikus, of soos iemand hom gedoop het “ons nasionale skattie”, word nie oornag geskep nie, maar gebore uit ’n ewige waaksaamheid oor dekades. Sy vreeslose kritiek op en humor oor ons samelewing kom ewe flink.


Uys se gesprek op die Woordfees met die regisseur Marthinus Basson het fasette van die die dramaturg en skrywer belig wat net kan uitstaan as mense mekaar al “300 jaar ken”.


“Ek was net te lui om te oefen, toe land ek in die teater. Sien, ek het gehoor middel-C is net die wit klawers toe dag ek dáár is my gehoor. Ek was nog altyd ’n one-man band,” skerts hy.


In sy eerste jaar van toneel aan die Universiteit van Kaapstad het Rosalie van der Gucht gesê hy had geen talent nie. “Wel, hier sit ek en dit is danksy onderwysers wat gesê het as jy glo jy kan, kan jy. Onderwysers sien die detail raak waarvoor ouers te besig is.”


Van der Gucht sou skaars ’n dekade later haar opmerking sluk toe sy ’n Fleur du Cap-prys aan haar eertydse student oorhandig het.


Sy ouers het hom ná skool oorsee gestuur met die woorde “gaan kyk hoe lyk die wêreld”. “En ek wou nie, want ek het net leer twist.”


In Londen het hy die groot Laurence Olivier op die verhoog gesien Othello speel. “Hoekom speel ’n wit man ’n swart man? Ons het só baie tuis?” Hy vertel van die groot skok om op die BBC nuusberigte van Suid Afrika te sien: “Hoe jong Afrikaner-seuns kinders in die rug skiet.” Hy vertel hoe hy uit kroeë gejaag is met die woorde “uit, ons soek nie Nazi’s hier nie”.


Hy het só huis toe verlang toe iemand vir hom ’n bandjie van Mimi Coertse se opname van ou Afrikaanse treffers gee as grap. Toe hy “Boereplaas” en “Al lê die berge nog so blou” hoor, bespreek hy sy kaartjie op die Union Castle terug na Suid-Afrika.


Ná sy studies het hy hom vir R22,50 ’n week by Suid-Afrika se eerste nierassige teater, die Space-teater, aangesluit. Sy kollegas was onder andere Brian Astbury, Yvonne Bryceland en Bill Curry. “Dit het my lewe verander. Ons het alles self geskryf, kostuums gemaak, vloere geskrop en die swart mense wat in ons stukke gespeel het, weggesteek.


“Met tyd leer jy dat daar altyd iemand in die veiligheidspolisie is wat grootpraat oor hul planne en dit só verklap,” vertel hy. “Dan sê jy net vir die gehoor: ‘Moenie paniek­bevange raak nie, ons breek mos net die wet hier.’ Dan, voordat hulle instorm en skree ‘Ag, waar is die bleddie ka––rs?’ steek jy jou spelers weg en bedien tee en koeksisters — sien, dit het daardie jare al begin.


“Daardie jare het ons altyd gelag omdat níks snaaks was nie. Deur humor konfronteer jy jou vrees, jy kyk die donker en vrees in die oë.”


Toe ’n toneelstuk gekanselleer is minder as ’n week voor openingsaand, is sy legendariese stuk Selle ou storie gebore. Dit had ál die taboes “Volksmoeder het jong lover en die ou man het jong minnaar”. Hy vertel hoe hy dit eers vir Pieter Fourie by Kruik gestuur het en dié dit aan hom teruggestuur het met die woorde: “Man, dit is mos nie aan nie!”


“Vloekwoorde in Afrikaans klink soos poësie,” vertel Uys. Mense het oor die jare gereeld gevra hoekom hy “sulke lelike taal gebruik”, ook die skrywer Anna M. Louw. “Taal is nie lelik nie, dit gaan oor die hartstog van die taal.”


Al die jare was dit die rookskerm in sy werk om die sensors om die bos te lei. “Dan het hulle nie verder gekyk na die seksuele of etnisiteit nie.”


Hy vertel dat hy een van sy grootste lesse by sy pa, Hannes Uys, geleer het. Dit was in 1990 met ’n optrede in die Baxter. Sy pa was toe reeds verswak. Hy kon sy pa se lag altyd uitken, “dit was so ’n hoerlag dertig sekondes voor almal en daardie aand lag pa nie. Eers dink ek, kwit, pa is dood.”


Ná die tyd het sy pa gesê: “Pieter, jy maak my só kwaad as jy die taal so in die toilet druk; jy hoef nie altyd daar te gaan nie. Kielie mense eerder agter die oor en wys dán vinger.”


Deur die jare het hy geleer tango voor die vuurpeloton, sê hy. “En deesdae in demokrasie is die vuurpeloton net so om die draai. Vandag se wêreld is totaal mal as swanger vroue met ’n bom in ’n stootwaentje ’n supermark opblaas. Ons leef in ’n wêreld waar daar nie reëls is nie.”


Destyds is sy boeredrama Die Van Aardes van Grootoor dadelik in Johannesburg verbied. Hier had Uys een van sy vele onderonsies met die sensuurraad. In die stuk gebruik hy woorde wat hy self opgemaak het, soos “krimpelien-drol”, “muistepel” en “genotskrots”. Hy is ingeroep oor dié onwelvoeglike woorde. Sy verweer was dat die woorde glad nie bestaan nie. Die amptenaar trek toe sy HAT nader en kry dit nie. “Wat beteken dit?” waarop Uys weier om te sê. Hy is daar weg met die versoek om “dit nooit weer te doen nie”.


Derjare het Uys ook sy pa aangepor om op die sensuurraad te dien nadat ’n versoek uitgestuur is vir “vooraanstaande Afrikaners” om daarop te dien. Sy pa dien toe op die raad en enkele weke later kry hy ’n oproep. “My kind, dié mense weet niks van niks, moenie bang wees nie.” Danksy sy pa is ál die poepe in die rolprent Blazing Saddles byvoorbeeld deurgelaat – met ’n slim skuif van sy pa. Hy het die toebroodjies laat aflewer net toe die toneel opkom in die voorskou vir die sensors.


Hy onthou die begin van sy toneelstuk Paradise is Closing Down as ’n donker dag in 1967 in Kaapstad. “Baie van my werke begin met ’n titel. Dit was die dag van verset in die stad met polisie en sirenes en skote. ’n Donker dag.”


In 1981 met Adapt or Die verskyn Evita die eerste keer. “Sy moes die vrou wees wat vroue herken, en mans moes van die man vergeet. Sy is nie hanswors nie.” Hy vertel hoe hy haar voorkoms so ’n bietjie by die aktrise en sangeres Marie du Toit geleen het. Hy vertel hoe Pik Botha steeds na Evita as sy seksbom verwys. Uys het gesinspeel dat die twee ’n verhouding had.


“Dit is belangrik om te besef dat die drommels ook ’n sin vir humor het. In die vyand se kamp is daar altyd iemand wat nie honderd persent oortuig is oor die stand van sake nie. Dit was so met die Nasionale Party en so is dit met die ANC.”


Sy werk om bewusmaking van MIV/vigs het ontstaan uit sy eie vrees vir vigs.


“Toe Thabo Mbeki geluide maak dat MIV nie lei tot vigs nie, het ek geweet ek moet my vrees besweer en werk aan die land se probleme.” Hy is na skole landwyd om met kinders te praat. “In sommige personeelkamers het ek gevoel ek het in stront getrap weens die kil ontvangs wat ek gekry het.” Hy vertel hoe ’n vooraanstaande seunskool in Stellenbosch hom die deur gewys het. In die Vaaldriehoek is hy deur skoliere op die hande by die skoolsaal ingedra terwyl hulle Nkosi Sikelel’ iAfrika gesing het.


■  Stukke teater, ’n bundel van Uys se Afrikaanse dramas wat by verskyning aandag getrek het oor sy satiriese uitbeelding van en kritiek op die apartheidstelsel, het pas by Human & Rousseau verskyn. Selle ou storie, Die Van Aardes van Grootoor is onder meer vervat.


  next >

top