webmaster

Archived Reviews

of

An  Audience with

Pieter-Dirk Eish!

next  >


REVIEW of AN AUDIENCE WITH PIETER-DIRK EISH! in CAPE TOWN  — NOVEMBER 2015


***** Uys is steeds ’n tour de force

– Herman Lategan, Die Burger, 10 November 2015


An Audience with Pieter-Dirk Eish

Theatre on the Bay, Kampsbaai


Pieter-Dirk Uys het oor die dekades heen meer as 7 000 eenmanvertonings opgevoer. Hierdie resensent het hom op die verhoog gesien sedert die vroeë tagtigerjare, sy loopbaan gevolg vandat hy ongeveer 35 jaar oud was, tot nou, op 70.


Daar was meestal uitstekende opvoerings, maar omdat die man oor die jare so produktief was, was daar soos met alle flukse akteurs (ook maar mens!) wisselvallige ordinêre aanbiedings. Hulle was in die minderheid.


Met sy jongste eenmanstuk, en as iemand wat al die meeste, indien nie amper ál sy werk gesien het nie, kan ’n mens met vertroue sê dié meester van satire is op sy kruin. An Audience with Pieter-Dirk Eish is ’n tour de ­force aangebied deur ’n gesoute akteur wat seepglad en selfversekerd stoksielalleen vir ongeveer ’n uur en ’n half ’n vol ouditorium mesmeriseer.


Om hom in hierdie vertoning te sien was soos om ’n meesterklas in intelligente politieke satire en improvisasie by te woon.


Hy is in der waarheid ’n virtuoos as dit by woordvaste ad libitum kom, iets waarmee baie verhoogkunstenaars gereeld sukkel.


Verder kom hy met ’n ferm en genuanseerde kennis van die land onder apartheid — hy en Evita Bezuidenhout was immers daar. Saam het hulle lag-lag teen die regime baklei. Bitter min van vandag se banale, selfingenome en opgepofte satirici, skerpskertsers of dramaturge kan daarop aanspraak maak.


Die stuk ontvou naatloos soos volg: Daar is verskeie genommerde bokse op die verhoog. In elke karton skuil ’n karakter. In sommige is daar selfs twee, soos met Evita Bezuidenhout en Angela Merkel, of Evita en Juju (Julius Malema). O wee, die bittersoet en heuningdik ironie.


Dan vra hy mense uit die gehoor om ’n boksnommer te kies. Die eerste paartjie is twee laatkommers, en hulle kies 75. Hy val weg met sy ondervindings daardie jaar (1975) met sensuur. Dan vra hy of daar born-frees in die gehoor is, ook mense wat hom dalk die eerste keer op die verhoog sien, en mense wat gay en trots daarop is.


Hy verander tjoeftjaf in verskeie van sy beminde karakters — die kugel Ja-Nowell ­Fine, Nelson Mandela, Desmond Tutu — maar ook sy ysingwekkende en perfekte interpretasie van Jacob Zuma was soos ’n uitgeholde Halloween-pampoen vir ons koggel en lag.


Maar dis toe Evita Bezuidenhout Juju die smalenderwyse pop uithaal en hom begin wieg soos ’n baba dat ’n sidderende doodse stilte oor die gehoor toesak. ’n Mens kon sweer iewers het die geluid van ’n geweer wat oorgehaal word weergalm. Boem!

next  >


top











__________________________




  next  >