webmaster

Pieter-Dirk Uys

SARIE, 2005


Mev. Naledi Pandor, minister van onderwys, het eergister in Kaapstad gesê sy gaan nie toelaat dat kondome by skole versprei word nie. (Kyk ook ons meningspeiling daaroor en sê jou sê.) Lydia van der Merwe het Pieter-Dirk Uys se mening gevra. (Hy reken sy's ''stupid''.)


 V: Wat dink jy van Pandor se uitlating?

A: Sulke stupid mense moet geklap word! Kinders gaan dood. Ek sê nie elke kind moet 'n kondoom in die hand gestop word nie, maar dit moet beskikbaar wees. Daar is hoofde wat vir kinders sê: As julle dit nodig het, vra my. Dis die volwasse manier om dit te benader.


 V: Besoek jy steeds skole vir seksvoorligting?

A: Ja, ja. Want niks het verander nie. Daar is nou wel 'n nuwe minister van gesondheid (Barbara Hogan). Maar sy is só besig om haar rug te beskerm teen Manto se Mafia.


V: Wat is jou primêre boodskap aan kinders?

A: Vra vrae. Moenie deur die wêreld strompel sonder om te kyk nie. Seks is lekker, maar seks is ook gevaarlik. Wag tot jy klaar is met skool. Maar nou word hulle verkrag. As só iets met jou gebeur, moet daar iemand wees met wie jy kan praat.


V: Wat is die kinders se reaksie?

A: Kyk, jy moet hulle entertain. Anders kyk hulle anderpad en speel met hul selfone. Ek sê: "Ek is 60 en julle 16. Laat my voel of ek 16 is en ek praat met julle of julle 24 is." Jy moenie op hulle neerpraat nie.


 V: En ouers? Is daar nog steeds van hulle wat teen jou praatjies by skole gekant is?

A: Ouers bly maar ouers. Hulle sê: "Mý kind naai nie." Daar is hoofde wat nie wil hê ek moet by hul skole praat nie. Ek sê: "Kyk, jy is die kaptein van jou skip. Maar vind 'n manier om die kinders in te lig. Moet dit nie net ignoreer nie." Die boodskap aan ouers is dieselfde.


  next  >

ARCHIVED

INTERVIEWS

from 2005