webmaster

Archived 2009 Articles

 by

Pieter-Dirk Uys

next >

Om dramaturg te wees

– Pieter-Dirk Uys, Die Burger, 27 February 2009


Ná byna 40 jaar in hierdie besigheid genoem Teater was ek onlangs vir die eerste keer ’n dramaturg.


Daar sittend aan tafel in ’n kamertjie duskant die voorportaal van die legendariese Klein­tea­ter in Kaapstad. Die groep jong akteurs, almal studente, met hul regisseur Christopher Weare as gids het die volle teks van my nuwe drama Macbeki deurgelees. Ek het dit daar vir die eerste keer uit ander mense se monde gehoor. En soos ’n lid van die toekomstige massa, die opwinding van die jong spelers gedeel.


Ek het sedert 1969 heelparty toneelstukke geskryf. Die regie van die meeste daarvan is deur my, “die dramaturg”, gedoen, gewoonlik omdat daar nie geld was om iemand anders te betaal nie. En soms het ek – moes ek – self daarin speel, as akteur en ja, ook aktrise!


Dié ondervinding was egter ’n luuksheid wat ek nooit vroeër kon waag nie. Om net na die woorde te luister, die struktuur van die aksie te vergeet, die pap stukkies te ontdek in die beton van die storielyn waaraan gewerk moes word. Maar bo alles, om die groot genot en gevaar van ’n nuwe teaterondervinding met ander te deel. En dít só vroeg in sy geboortetyd.


Teen die einde van Julie verlede jaar was hierdie nuwe opus op papier. Nie die gewone eenman-konsert soos sedert die Bothatanic se sinking nie. Dié keer ’n ware, egte drama met tien spelers en ’n “operatiese” emosionele slagveld van vyf bedrywe!


Macbeki is ’n satiriese samesmelting van die beste uit die dramatiese verbeelding van William Shakespeare, en die vrotste uit ons plaaslike politiek, gesimboliseer in die erfenis van Thabo die Vorige. Sedert sy bisarre verwerping van die verbintenis tussen MIV en vigs, en sy giftige samewerking met die Doodsengel, vermom as die minister van gesondheid, om die gewigtigheid van die virus se effek te ondermyn, sit ek nie graag aan sy tafel nie.


Uit ’n kollektiewe leierskorps was hy nie die ideale kandidaat om die optimisme en staatsmanskap van Madiba as fondament te gebruik in ’n toekoms vir almal nie. Ons gaan lank en hard moet kou en sluk aan die nalatenskap van daardie klein man. Gelukkig moet vermaaklikheidshansworse genot verskaf en nie politiek pleeg nie.


My teleurstelling en frustrasies met die toiletreuke van demokrasie moes altyd versigtig deur die dissipline van 49% woede en 51% vermaak ingehok word. Humor is mos daardie rare wapen van massa-afleiding.


Nadat ek in 2008 die Broadway-opvoering van die “Skotse Stuk” gesien het – mense in die teater is te bygelowig om die regte naam uit te spreek – was ek geïnspireer om ’n bietjie nonsens aan te jaag.


Die superster Patrick Steward was aan die hoof as Macbeth, ’n paar tree weg van sy vorige werk in Star Trek. Sy kleurryke realiteite van massamoord en doodslag het vir my ’n egte swart-en-wit weerklank gehad van ons eie politieke foefies, so briljant verewig in die spotprente van Zapiro.


Shakespeare se drama is bekend as die bloudruk van ’n slagveldkaart vir politieke magspel en vieslike dinge wat in die donker gorrel en vrek. In my stuk gaan niemand so dood nie. Hulle word maar net deur die kollektiewe leierskorps van die party teruggesluk.


Macbeki is ook die storie van een leier wat plek maak vir ’n ander.


Die ou koning Maduba word slinks vervang deur die jonger Macbeki, wat saam met sy metgesel, lady Manta, sy ambisies deur die mynveld van moontlikhede loods, ten koste van al die ander om hulle. Sy teenstander, lord MacZum, versterk sy posisie met danse en sang en etniese konfrontasies en word gevaarlik en voorspelbaar. Polokwane-woud kom nader aan Luthuli-kasteel!


Drie hekse, slim vermom as lede van die vrye pers, voorspel groot mag vir Macbeki, en mettertyd word hul verwysings waar. Maar wat ’n gemors! Die koningspaar regeer terwyl die land deur ’n virus en geweld geteister word.


Stel voor my verstomming toe my Xerox-Macbeth oornag deur sy eie politieke draak ingesluk en verteer word! Skokkend was daar niemand in die ANC-kraal wat kon oorneem nie. Maar soos in Shakespeare se storie was daardie alternatiewe almal in die Polokwane-woud, vermom as bome!


Ek moes daagliks die verwikkelinge dophou. Wie is in? Wie is uit? Kan die Zunami van Jakob die Veelgetroude my ou dramatjie omverwerp? Inteendeel. Die Polokwane-Rubicon en al die opvolgende dramas het die stuk maar net versterk. Dit was nie meer net ’n weerspieëling van die werklikheid nie, maar nou ’n egte driedimensionele storie met egte mense. Elkeen met moerse probleme.


Tyd om ’n verhoog te vind. Julie 2008 is gister. Dramas kan nie oornag ’n tuiste vind nie. Dit is makliker met my drie kartonne en ses paar ooghare. Maar ek onthou altyd waar my wortels lê. In die jare sestig het ek as ’n oopoog-witkopknaap by die drama-departement van die Universiteit van Kaapstad ingestrompel. Ek was vier jaar daar. Ek is nog hier ná 40.


Christopher Weare is nou die kaptein van daardie skip, en dit was logies om my nuwe ding na hom te neem.


Die skokkende towerkrag van drama. Deur die eeue heen; en steeds is dit met ons. Dit sal nooit sterf nie. Ons daarin sal vrek van ellende, luiheid, oorgewig en verveling. Maar om ’n groep nuwe talente te sien wat worstel met die slange wat jy in jou binneste spelonke gevind het, is die ondervinding van ’n leeftyd van wag.


En hierdie week was weer daardie tyd. Ek het Woensdagaand saam met ’n gehoor vol ander maagde gesien hoe die genie van drama almal kon vervoer na ’n woerel-land van sleg en goed, lief en leed, hyg en swyg. Laggend vir die vreeslikheid van wat kan gebeur. Ontroer deur die wonder dat dit nog nooit so erg geword het nie. Dankbaar vir daardie spieël van herkenning wat jou laat lag vir ’n poephol wat soos jy lyk.


En dit is jy.

next >

top