webmaster

ARCHIVED

INTERVIEWS

from 2006

<  previous   next  >

5 vinnige vrae: Pieter-Dirk Uys

– Melt Myburgh, LitNet, 12 September 2006


Met sy besoeke aan skole regoor Suid-Afrika het die legendariese Pieter-Dirk Uys (ofte wel, tannie Evita Bezuidenhout) reeds 'n enorme bydrae gelewer om leerders en opvoeders bewus te maak van die gevare rondom Vigs. Melt Myburgh het vyf vrae aan hom gestel.


1. Met jou Vigs-bewusmakingveldtog het jy die land deurkruis en 'n magdom skole besoek. Wat is jou indruk omtrent die stand van onderwys in die land?


700 skole, oor ’n miljoen jong mense. Die stand van onderwys is altyd moeilik om te skat. Ek dink almal is twee tot drie jaar agter in die meeste vakke. Maar die fokus op MIV/Vigs is baie teoreties: posters, lesings, boring. Ek probeer dit normaal maak deur oor seks te praat soos dit is — woorde en al. Lag help onthou. Party skole (Afrikaanse skole) weier om my toe te laat. Ek hoop net hulle vind 'n ander manier om die leerders in te lig: “Naai is lewensgevaarlik! Weet wat jy doen!”


2. Wat, dink jy, kan bevoorregte skole doen om die wanbalans wat tussen hulle en sukkelende skole bestaan, te help uitwis?


Nooi ander skole om te kom kuier. Stuur busse en bring die twee wêrelde bymekaar vir sport, musiek, debat of net jol. Twinning is 'n baie goeie manier — deur die internet en deur besoeke.


3. Hoe sal 'n mens ooit die moerse gaping tussen die "haves" en die "have nots" in dié land oorbrug?


Dit help nie dat vyf lede van die ANC Executive oor die 1,5 miljard rand werd is  nie! Die nuwe apartheid is: dié met geld sal leef; dié sonder geld sal sterf. As ons nie gou iets doen nie — en met “ons” verwys ek na die jeug van ons land — gaan daardie bloedige rewolusie wat ons in 1994 in 'n dansparty omskep het, werklik binne tien jaar gebeur.


4. Watter illusies bestaan daar, na jou mening, onder grootmense en jongmense oor die MI-virus en Vigs?


“Dit kan nie met my gebeur nie.”

“Ek is 'n Christen ...”


Ouer mense is meer van 'n probleem met hulle vooroordeel en morele hoë grond. Ons weet hulle “doen” ook dit waaroor hulle die jonges betig. Op die oomblik is daar middeljarige Afrikaner-vroue met MIV, want hulle mans naai rond. Daar is ouer mense met Vigs, want hulle dink hulle is virus-vry want hulle is 60. Die enigste manier om te wen is om met mekaar te praat.


5. Watter raad het jy vir skoolgaande gay tieners wat voornemens is om uit die kas te klim?


Besef jy is nie alleen nie. Daar is miljoene van ons orals. Niks om oor skaam te wees nie. Eksperimenteer veilig. Maak vriende wat ook op dieselfde pad loop. En breek daardie kas se deur so gou as moontlik oop vir jouself. Moenie Ouma té bang maak nie; miskien maak jy haar dag.

<  previous   next  >


top