webmaster

Archived 2010 Articles

 by

Pieter-Dirk Uys

<  previous   next  >

30 jaar se vasbyt met lipstiffie

– Pieter-Dirk Uys, Rapport, 31 July 2010


In 1985 sit ek in ’n hotelkamer in Bloemfontein. Dit was voor die openingsaand van Evita Bezuidenhout se rolprent Skating on Thin Uys.

Tannie se rok was gereed in die slaapkamer. Volmaakte Boere-barok, ligpers, met skoene en handsak wat daarby pas, pruik reggekam, ooghare gekrul, reg vir die Vrystaat.

’n Joernalis sit oorkant my, sy pen orent. Beslis nie vriendelik nie, maar met daardie skewe grynslag van sarkasme om sy swak mond wat sy afkeer verraai.

“Luister man,” hyg hy, “kom ons praat gou off the record.”

“Ja-nee,” stem ek saam.

“Is jy gay?”

Dis ’n vraag wat vandag niks beteken nie. Dis of jy vra: Waar is die vulstasie? Of: Het jy genoeg suiker in jou koffie? Maar in 1985 was dit ’n knalskoot van gevaar. Daardie soort goeters in die donker was teen die wet van Broeder en Kerk. Dit was ook beslis amptelik on-Afrikaans.

Daar was die doodloopstraat wat my kreatiewe lewe sou doodsmoor.

“Laat ek nou eerlik wees met jou,” begin ek stadig, brein woedend aan die werk. Sy giftige pen word stywer deur dik voorvingers vasgeklou. “Maandag en Donderdag is ek gay. Dinsdag en Vrydag is ek normaal, soos jy.

“Woensdag is ek bi-seksueel.

“Saterdag doen ek dit self. En Sondag rus ek.”

Sy vingers verslap en die pen rol lusteloos oor die tafel. Die donner moes maar lag.

Wat de hel het dit alles te doen met toneelspeel?

“Slaap jy in Evita se nagrok?”

Nee! Gaan die diepsee-duiker in sy duikpak bed toe? Reeds op die UK se dramaskool het ek die waarde van grimering ontdek.

Toe was dit ’n helse besigheid met greasepaint en poeier, dit en dat. Jy kon jou gesig ’n myl ver ruik, so dik van die verf was dit. Maar jy’t ten minste na iemand anders gelyk.

Akteurs speel mansrolle met oorgawe. Aktrises spartel met die drama om vrou te wees en heldinne te verheerlik. Maar ’n toneelspeler moet mos alles kan speel: man, vrou, kind, hond, kat en soms ook stoel. Tydens die dorre 1970’s was daar soms moontlikhede om só die grens van aanvaarding om kronkels en draaie te druk. ’n Japanse geisja hier; ’n blonde Dietrich daar.

Maar dit was eers in 1978 met ’n klein weeklikse rubriek in ’n Sondagkoerant dat ek my Evita teëgekom het.

Elke vierde week in daardie Sondag se 100 woorde was hierdie deftige Afrikaanse vrou by ’n partytjie in apartheid-Pretoria.

Dit was tydens die Inligting-skandaal. Groot drama. Bloed en gal teen die muur, saam met die geskrifte van woede teen die beleid van afsonderlike lobotomie.

Niemand kon daaroor skryf nie. Nie net weens streng sensuur nie, maar selfsensuur, die erger kanker.

Hierdie tannie was getroud met ’n Nasionale Party-LV. Sy was sonder naam of van, net ’n bekende ritme van praat. Van skinder. “Skattie? Het jy gehoor wat Eschel en Connie aangevang het?”

Ná ses maande van haar praatjies lyk my redakteur benoud en vies. “Hoe de hel kom jy daarmee weg?” mompel hy.

“Ons kan nie eens die feite van die skandaal op die voorblad plaas nie, maar hierdie Evita van Pretoria kry dit elke maand reg en niemand stop haar — of jou — nie!”

Evita? Dit was juis die nuwe musiekdrama wat Londen se teaterwêreld op hol gehad het. Ná ’n lees van die biografie van die ware Evita Peron het ek die ideale lewensbloudruk gevind. Hier was nou ’n rede om ’n rok te dra.

Hier was meer as net die kamp lipstiffie en slap pols. Hier was die kans om ’n vredesvegter te skep wat met haar belaglikheid en teaterlike sjarme die waarheid kon uitblaker sonder om die polisiehonde te laat blaf.

Die legende van Evita is nou meer as 30 jaar deel van die plaaslike halssnoer van ons kultuur. Soos die koninginmoeder het sy haar medaljes verdien. Sy praat met almal, van presidente tot priesters, van skoolkinders tot gemeentes. Sy is familie-vriendelik, want Tannie vloek nooit; kan die word “kondoom” nie eens uitspreek nie. Vermy enige godslaster wat so maklik uit die gladde bek van ’n grapjas kan vloei.

In 1995 bevry Nelson Mandela my uit daardie tronk van vooroordeel en vrees. Skielik is dit wettig om onwettig te wees.

Skielik is die onwaarskynlike die toekoms. Evita los haar tuisland op in die warm sop van demokrasie en gaan kombuis toe. Sy kook vir Madiba. Sy gebruik haar resepte vir bobotie, koeksisters en bredie as versoeningsmiddels, om mense saam te laat lag.

“Onthou waar ons vandaan kom sodat ons kan saam feesvier oor waarheen ons gaan!” was haar leuse.

Soos met enige suksesvolle politieke nar, hanswors of grapmaker bly die vars bloed altyd nat onder skerp naels. In my geval: rooi. Om vir vrees te lag, maak daardie vrees minder vreeslik.

Nooit minder gevaarlik nie, maar om in beheer daarvan te wees, beteken jy’s ingestel om links of regs te spring as daardie slang na jou pik.

Die ou vyande van apartheid het gevrek; lank lewe die nuwe bliksems van demokrasie.

Plaaslike satire word weerkaats in die gekraakte spieël van die malligheid en sieklikheid van korrupsie, leuens, rassisme en politiek. Altyd met die geheime resep van 49% woede teenoor 51% vermaak. En so gaan Evita, die bekendste wit vrou in Afrika, van eetkamer tot kombuis.

Deur Madiba en Mbeki, links verby Motlanthe, met ’n tiekie-draai om Malema tot in die kraal van Zuma die Vader van die Nasie en sy harem ZuMamas. Om nie te vergeet van die massa klein Zumazelas nie.

As televisie met Desperate Housewives die wêreld bekoor en walg, kan die drie übergades die inspirasie wees vir my jongste komiese konsert, getiteld Desperate First Ladies. Almal weet die regering van die dag skryf al my beste materiaal vir my.

Daar is egter meer as net drie politieke wywe op skou. My 30 jaar in hoë hakke en lipstiffie het ook ander anties voortgebring. Nowell Fine, oudstryder en ou kugel, klets oor gebroke ANC-beloftes. Mev. Petersen in haar breek-en-braak-winkeltjie in Kaapstad hoop dinge in ons land gaan verbeter. Winnie M&M is voor op die ANC-wa, terwyl ou Wilhelmina Opklim onder haar plastieksak dooswyn suip en in bergie-taal skel. Evita se jonger suster, Bambi Kellermann, rol ’n kondoom maklik op ’n piesang af en Moeder Theresa doen diens in die Nommer Asseblief-foonsentrale Bo, want Marilyn Monroe, wat gewoonlik dié werk doen, staak buite op ’n wolk met die ander engeltjies!

<  previous   next  >

top