webmaster

Archived 2008 Articles

 by

Pieter-Dirk Uys

<  previous  next  >

Dankie, ‘MacBeki’!

 – Pieter-Dirk Uys, Die Burger, 18 April 2008


DIS altyd goed om elke nou en dan op ’n ander planeet te sit en te kyk na die spikkeltjie in die verte. Suid-Afrika.


Twee-en-twintig uur weg na ’n suidelike sonsopkoms in ’n vliegtuig, daar waar dit nou besig is om koeler te word, terwyl dit hier in die Noorde kastig veronderstel is om op te warm.


Ek is nou in Boston en dis vrek koud. Langjan-onderklere van wol, warm serp en wolpet. Hulle lag, want ek lyk soos ’n toeris en verseker my dis nie winter nie.


Dis lente. A! Een boom onder in straat het wel bloeisels geskiet, maar voel wragtig ’n bietjie stupid, want al die ander bome is nog kaal. Dis die tweede keer dat ek hier in Massachusetts my satiriese ankertjie gooi.


Drie jaar gelede was ek hier met Foreign Aids en daardie oop venster op ons vigsnagmerrie het gehore laat steier.


Tot vandag toe vra hulle hoopvol of dinge beter gaan. Ja-nee, is my antwoord.


JA, die mense in Suid-Afrika het nou uiteindelik besef daar kom nie hulp van die regering nie.


En nee, die Mbeki-regering is nog dieper in sy ontkenning van die realiteite van ons probleme. Op die oomblik is Zimbabwe op bladsy drie van The Boston Globe, en dit wys hoe belangrik die nuus is, al kom dit van ’n ander planeet se maan. Dis ’n daaglikse op-en-af, van ja tot nee, tot miskien en hoekom.


Dat Thabo Mbeki weer soos ’n politieke hanswors tussen die kwynende Zimbabwiërs met 100 000%-inflasie kan staan en aankondig dat daar “geen krisis in die land is nie”, was weer vir my ’n geskenk.


Ek sê altyd, die regering van die dag skryf my materiaal. Ek het altyd beleefd vir PW Botha en sy apartheid-regime bedank vir die wonderlike nagmerries wat hulle vir my geskryf het: Die belaglikheid van Tuisland­onafhanklikheid. Die verwarring van groepsgebiede en ontug. Die beelde van Christen-leiers met die bloed van kinders op hul hande.


Maar altyd opgedis met 49% woede en 51% vermaak.


MIN het ek geweet watter feestelikheid lê vir my voor. Ek is waarlik vandag in ’n satiriese hemel. Ek kan die realiteite van wat gebeur, nie opmaak nie. Daarom betaal ek nie belasting nie, maar tantieme.


Thabo se stille diplomasie met Zimbabwe is ’n groot sukses. Dis so stil, ons kan nie eens hoor hoe hulle skree nie. Asof die vigsmenseslagting nie genoeg van ’n skande om sy leierskap is nie, om nou ook deur die geskiedenis onthou te word as ’n kollaborateur met Mugabe, die Pol Pot van Afrika?


Ons is beslis in die middel van ons eie produksie van MacBeki. Die arrogante, verwarde koning met sy intellek wat lek en sy passie wat faal. Agter hom, sy dronk lady Manto, met die bloed van miljoene op daardie hande wat sy hard was met beetwater en knoffel.


“Uit verdomde lewer” is waarvoor ons almal hoop.


Toemaar, dis net nog ’n paar maande met hierdie amateurbeskaafdes aan bewind en dan kom daar weer ’n hoofstuk van satire aan die beurt. Die “Zunami”? Of wie?


Hier in Cambridge, die stad oorkant die rivier van Boston en tuiste van Harvard-universiteit, is die teater, waar ek met Elections & Erections speel, elke aand stampvol. Soms met een of twee vlugtelinge uit die lager.


Mense verwag die titel is geïnspireer deur die Clintons. Ja, ons weet die een wil as president verkies word en die ander wil as president vergeef word. Die Amerikaanse presidensiële sepie is nou al in sy vyftiende maand en moet nog tot November aankreun.


Maar wat ’n briljante sirkus! En hoe dankbaar dat – vir die eerste keer in dekades – die mense hier waarlik opgewonde is oor die politiek.


Hulle praat, stry, maak grappe, vervloek, skud kop en sien uit na die dag wanneer hulle strepies kan trek – of nee, hulle moet knoppies druk en dan sal die komper self kies waar dit gaan!


Die einde van George W. Bush se bebloede tweede termyn is in sig. Ek weet hoe hulle voel. Suid-Afrika en die VSA is verenig in een hoop: ’n beter president wat kom!


Hillary Roddam Clinton is slim, vinnig, blond, honger vir mag en genadeloos ambisieus. Agter haar, die skelm skaduwee van die vorige president wat nie op sy bek geval is nie. Tussen hulle twee is verwag dat Mevrou maklik die nominasie sou insluk.


Maar wag, wie kom aangedraf uit die verte? Barack Obama!


Swart, maar kleurling. Amerikaans met Afrika-vader. Jonk, maar nie nat agter die ore nie. En met minder ondervinding as ander. Maar ná agt jaar van sogenaamde ondervinding en 4 000 dooie Amerikaanse soldate in Irak, is sulke ondervinding die antwoord?


Die hoop op passie en verandering het die publiek aangegryp.


Aan die Republikeinse kant staan die 74-jarige John McCain, reg om in die voetspore van George W. Bush te volg met sy Barbie Doll-vrou en beloftes van sake soos gewoonlik.


Voorbladnuus as hierdie American Idols hoes. Skande as hulle nies. Spotprente as hulle poep. Almal snik as hulle praat van ’n finansiële resessie. Almal hyg as hulle sien hoe hul magtige dollar kleiner vertoon op die markte van hebsug.


En wat van Darfoer? En Somalië, Ethiopië, Kosovo, Gasa, Pakistan, Afganistan, Irak, Iran, Kongo, Kenia, Zimbabwe en Tsjetsjnië?


Ag nee wat, dis net gewone mense wat daar vrek. Die uitverkore volkere van ons Eerstewêreld-demokrasieë is anders. Ons sal oorwin.


SAL ons? Behoort ons? Miskien nie. Die planeet kyk vooruit en soos ’n ou poedel met te veel vlooie het sy planne vir ’n paar woeste skuddings om van ons almal ontslae te raak. Maar tot dit geskied, dankie vader vir die politiek.


Dis gratis woorde van woede in die mond van vermaak.


Wees dankbaar vir daardie vryheid van spraak wat gebruik kan word om te lag vir die bliksems wat ons so bangpraat.


In ons hand is ’n sleutel van die deur na die toekoms. Die VSA stem in November. Ons stem in 2009.


Gooi daardie sleutel weg, en jy bly maar ’n simpel ou vlooi!

<  previous  next  >


top