webmaster

Archived 2009 Articles about  Pieter-Dirk Uys

<  previous  next  >

Mbeki se magspel in nuwe tragi-komedie

– Kobus Burger, Die Burger, 8 February 2009


Vir die eerste keer in sy loopbaan as satirikus en dramaturg gaan Pieter-Dirk Uys nie sélf in sy eie stuk speel nie.


MacBeki, wat op 25 Februarie as ’n “proeflopie” en as ’n studenteproduksie in die Kleinteater in Kaapstad open, is ’n splinternuwe verhoogstuk uit die 63-jarige Uys se pen. Dit word van 1 April, Gekkedag, deur beroepsakteurs in die Markteater in Johannesburg opgevoer.


Die drama is geïnspireer deur Shakespeare se kortste tragedie, Macbeth, en handel oor “magspel en bloeddorstigheid, maar in my play gaan niemand dood nie”.


Uys sê hy het die stuk verlede jaar in Julie voltooi. “Toe gebeur Polokwane, en ek het gedink: ‘Daar gaan my play’.”


Tog het hy die politieke gebeure van die afgelope sowat nege maande bygewerk, met selfs die nuwe politieke party Cope en die ANC-Jeugleier, Julius Malema, wat in die stuk hul verskyning maak.


“Daar is tien akteurs in die company, maar ek is nie daarin nie. Dit is die eers­te keer dat ek daar sit as die dramaturg, met my hande gevou, en nie self in my stuk speel nie,” vertel Uys, wat ook die spelleiding sal behartig.


“Die drie hekse is joernaliste. En die enigste wit persoon in die geselskap is die portier (boodskapper). En die portier sê: ‘Ek kon self al hierdie rolle gespeel het, maar mag nie weens die kleur van my vel.’ ”


Die aktrise Lizz Meiring vertolk die rol van die portier in die Johannesburgse speelvak.


Die rolverdeling van MacBeki sluit in Fezile Mpela in die titelrol, Ntathi Mo­shesh as Lady Manta en Sello Sebotsane as Lord MacZum. Renate Stuurman van Verwagtings-faam is in verskeie rolle te sien.


Anders as in sy satiriese revues waarin die politici gewoonlik karikature is, is die karakters in MacBeki “driedimensioneel, karakters wat jou ook gaan ontroer”.


“Daar is oomblikke met Mbeki wanneer jy gaan dink: Jissus, wat het verkeerd geloop? Daar is soveel goeie goed wat kón gebeur het.”


Uys is besonder opgewonde oor dié stuk wat op 25 Februarie sy Kaapse ­première sal hê. “Dit is belangrik dat hierdie play nóú in die venstertyd voor die verkiesing opgevoer word.” Die Kaapse speelvak van dié “kontemporêre tragi-komedie” duur tot 21 Maart.


<  previous  next  >


top