Archived 2019 Articles about Freedom of Speech & Expression

PDU & Arch3 - 23 June 2010

Uys: ‘Kru taal is deel van ons kultuur’
– Jackie Kruger, Die Burger, 28 March 2019

Ná 40 jaar in die vermaakbedryf neem hy aan dat die meeste lede van sy gehoor weet hoe hy sy materiaal hanteer — sonder selfsensuur of vrees vir negatiewe reaksie.

Só skryf Pieter-Dirk Uys onder meer in reaksie op talle mense wat Maandagaand by sy opvoering Die Poggenpoels praat (en Ouma Ossewania praat vuil) op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn uitgestap het.

Van die gehoorlede het vroeër gesê hulle het uitgestap oor die kru taal en die gebruik van die k-woord.

Uys skryf: “Ek neem kennis van die berig dat ‘kru taal en die gebruik van die k-woord’ daartoe gelei het dat talle mense Maandagaand by my opvoering van Die Poggenpoels praat (en Ouma Ossewania praat vuil) op die KKNK uitgeloop het. Die titel van die stuk soos aangekondig het sekerlik vir hulle vroeg gewaarsku.

“Evita se moeder, Ouma Ossewania, is 119 jaar oud en haar lewe soos hier op die verhoog uitgebeeld

verteenwoordig ’n tydperk in ons geskiedenis in haar monoloog van herinnerings, vooroordeel, rassisme, liefdes en haat.

“En soos sy bieg: ‘Ek vloek nooit as ek praat nie. Net as ek dink. Soos nou.’ En ja, sy gebruik taal wat nie uit die mond van ’n Christen- Afrikaner-tannie in die publiek verwag word nie.

“Kru taal is deel van die Afrikaner se kultuur. Ek persoonlik, ná jare van ondervinding van sensuur en kritiek, beskou daardie kragwoorde nie as vloek nie, maar eerder as ’n soort poësie (met twee dotjies op die e.)

“Baie k-woorde is in die monoloog geuiter. Watter een het mense aanstoot gegee? Kommunis? Katoliek? Kak?

“Die KKNK-program het duidelik gestel dat niemand onder 12 by die vertoning toegelaat word nie en daar was waarskuwings oor seks (S) en taal (T). Ná 40 jaar in die besigheid van vermaak neem ek aan dat die meeste lede van my gehoor weet hoe ek my materiaal hanteer. Alle reaksie in die teater is waardevol en ek is bly om te weet dat diegene wat die saal verlaat het, goed geluister het.

“Jammer hulle het die hele monoloog nie gehoor nie. Baie kinkels word teen die einde uitgestryk.

“Ek sien uit na die volgende opvoerings met Ouma se monoloog van onthou en onthul by ander feeste waar die wonder van ons Afrikaanse taal op menigte vlakke gevier sal word.”

Die KKNK-organiseerders het vroeër gesê hulle is daarvan bewus dat daar kru taal was, maar geen amptelike klagtes oor die vertoning is by die feeskantoor ingedien nie.

Die KKNK het gister ten einde geloop.