K-woorde in Uys se vertoning skok
KKNK: Konsertgangers loop uit
– Jackie Kruger, Die Burger, 27 March 2019
Kru taal en die gebruik van die k-woord het blykbaar daartoe gelei dat talle mense Maandagaand by Pieter-Dirk Uys se eenmanvertoning Die Poggenpoels praat op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn uitgestap het.
Die komedie is slegs vir een aand in die Absa-burgersentrum opgevoer. In ’n verklaring oor die komedie op die KKNK se webtuiste staan onder meer: “Die Poggenpoels uit Bethlehem, Vrystaat, was al by die KKNK. Ouma Ossewania Kakebenia het haar storie nog in die vorige eeu kom deel, en haar dogter, Evangelie, was al ’n paar keer by die fees in haar gedaante as Evita Bezuidenhout.
“Hulle is nou albei terug om die 25ste fees saam te vier. Ouma Ossewania, nou beslis oor die 100 jaar oud, is de hel in oor die politiek, die ouetehuis en die verlede. Ouma Ossewania praat vuil!
“Evita Bezuidenhout, nou lid van die ANC en steeds die bekendste wit vrou in SuidAfrika, se fokus is op 2019 se algemene verkiesing. Ja-nee, tannie Evita praat kaktus! Wees gewaarsku: Vryheid van spraak seëvier op die vlaktes, en die waarheid sal uit!”
Volgens die verklaring word niemand onder 12 toegelaat nie en daar is waarskuwings oor seks (S) en taal (T).
Feesgangers wat die vertoning Maandagaand om 18:30 bygewoon het, het gesê omtrent ’n kwart van die mense het ná sowat 20 minute uitgestap. Volgens die feesgangers is die k-woord herhaaldelik gebruik en is ook glo gesê “hulle steel net”. Die Here se naam is ydellik gebruik en daar is in kru taal na mans en vrou se geslagsdele verwys.
Volgens die feesgangers was die taalgebruik vulgêr en onsmaaklik.
“Mense word in die tronk gestop as hulle die k-woord gebruik en ons probeer juis om oor rassisme te kom,” het van hulle gesê.
Die KKNK-organiseerders sê by navraag hulle is bewus dat daar kru taal was, maar geen amptelike klagtes oor die vertoning is by die feeskantoor ingedien nie.
Die KKNK loop vandag ten einde.
_______________________________________
REAKSIE OP GEHOOR SE REAKSIE
Ek neem kennis van die berig dat ‘kru taal en die gebruik van die k-woord’ daartoe gelei het dat talle mense Maandagaand by my opvoering van Die Poggenpoels praat (en Ouma Ossewania praat vuil) op die KKNK uitgeloop het. Die titel van die stuk soos aangekondig het sekerlik vir hulle vroeg gewaarsku.
Evita se moeder, Ouma Ossewanie, is 119 jaar oud en haar lewe hier op die verhoog uitgebeeld, verteenwoordig ‘n tydperk in ons geskiedenis in haar monoloog van herinnerings, vooroordeel, rassisme, liefdes en haat. En soos sy bieg: ‘Ek vloek nooit as ek praat nie. Net as ek dink. Soos nou.’ En ja, sy gebruik taal wat nie uit die mond van ‘n Christen Afrikaner tannie in die publiek verwag word nie.
Kru-taal is deel van die Afrikaner se kultuur. Ek persoonlik, na jare van ondervinding van sensuur en kritiek, beskou daardie kragwoorde nie as vloeke nie, maar eerder as ‘n soort poesie (met twee dotjies op die e!)
Baie k-woorde is in die monoloog geuiter. Watter een het mense aanstoot gegee? Kommunis? Katoliek? Kak?
Die KKNK program het duidelik gestel dat niemand onder 12 by die vertoning toegelaat is nie en daar was waarskuwings oor seks (S) en taal (T). Na 40 jaar in die besigheid van vermaak, neem ek aan dat meeste lede van my gehoor weet hoe ek my material hanteer sonder self-sensuur of vrees vir negatiewe reaksies. Alle reaksies in die teater is waardevol en ek is bly om te weet dat diegene wat die saal verlaat het, goed geluister het. Jammer hulle het die hele monoloog gehoor nie. Baie kinkels word teen die einde uitgestryk.
Ek sien uit na die volgende opvoerings met Ouma se monoloog van onthou en onthul by ander feeste waar die wonder van ons Afrikaanse taal op menigte vlakke gevier sal word.
Pieter-Dirk Uys