Archived 2022 Articles about Pieter-Dirk Uys

pdu perron 3 - crop1


PIETER-DIRK UYS: My werk is om mense te laat lag vir hul vrese
– Haidee Muller-Isaacs, Netwerk24, 4 November 2022

 

Die wag voor Pieter-Dirk Uys se mond is al lankal met langverlof, maar hy vertel graag die waarheid, g’n stertjies word bygelas vir special effects nie. Doekies omdraai? Nee, skattie. Dalk wel om sy alter ego, Tannie Evita, se kop wanneer dié grênd wil lyk om parlementslede toe te spreek.

 

Ons drink tee op die stoep van die fênsie Mount Nelson hotel in die hartjie van Kaapstad. Die eekhorings en voëltjies wip vreesloos oor die tafel voor ons, kou en pik-pik smaaklik aan ons peuselhappies van olywe, neute en skyfies. Pieter-Dirk het uit sy geliefde Darling hier kom uitspan. Dis shows en dit en dat – en o, wag, ook nuwe dinge, maar sjuut vir eers …  

 

Die geselsie begin by die ou dae in Pinelands. Sy liefde vir die gesin se huiswerker Sannie Abader van die Kaapse Vlakte – vir hom as’t ware ’n grootmaakma. Sannie het nie “dinges” van kabouters soos hy gevat nie. Die jong Pieter-Dirk is kort-kort goed in die bek geruk as die woorde uit sy mond nie na Sannie se wense was nie.

 

Die bekroonde satirikus gesels land en sand. Die heimwee laat sy oë blink en die bestelde pot tee wat sta’ koud word, is skoon vergete. Hy praat vinnig en ’n mens moet byhou. Daai brein is op 77 sommer nog vlymskerp – nee, daar’s nie fout nie. Hy borrel voort oor sy liefde as jong seun vir die musiek van Mozart. “Ek kon nie glo hy is reeds dood nie, sy musiek was vir my so lewendig. Ons huis was vol musiek.”

 

Sy ouers was begaafde pianiste, vertel hy. Helga, ’n nooi Bassel, het in die laat dertigs met die skip in die Kaap aangeland uit Berlyn, Duitsland – met haar Blüthner-klavier en Underwood-tikmasjien. Toe volg haar eerste Kaapse tweeklavierkonsert met Johannes Uys, die einste Hannes met wie sy later sou trou: Pieter-Dirk se pa.

 

Eers met haar selfdood in 1969 het hulle gehoor sy was Joods. En selfs al was sy Duits, het Helga “wonderlik vlot” Afrikaans gepraat, wel met ’n aksent.

 

Hannes was die streng een, maar met elke Eisteddfod waaraan Pieter-Dirk en sy ewe talentvolle sus, Tessa, sou deelneem, het Helga hulle op haar manier gemotiveer. “Ma het altyd gesê: Geniet julself – as jy wen, kry jy ’n ice cream en as jy nie wen nie, kry jy twee ice creams. How’s that for a philosophy. Jy verloor eintlik niks nie.”

 

Helga was maar sestig toe sy haar eie lewe geneem het in 1969. Dis geen staatsgeheim nie. Daaroor het hy al oop en bloot gepraat, oral.

 

Pieter-Dirk: “Ek het nie weemoed oor my ouers nie. Ek vier hulle en dis lekker om oor hulle te praat. Ek weet hulle is/was beslis aan my kant.”

 

Hy het in pa Hannes se koor gesing en Tessa sou later een van ons land se voorste konsertpianiste word. Hy onthou die keer toe Hannes se koor “Die Stem” vir dr. Verwoerd gesing het. In sy museum word die briewe van Tannie Betsie nou nog bewaar: “Dokter het dit so geniet, Pietertjie, jou pragtige stem.”

 

Hy glimlag, kyk die verte in – sy gedagtes draai na die prent van ’n pragtige Italiaanse filmster wat hy desjare in die Stage & Cinema-tydskrif raakgesien het. Die skone Sophia Loren. Hy was toe nog ’n snotkop-tiener; sy 27 en wêreldberoemd.

 

En hy móét altyd die storie van dr. Verwoerd se prent teen sy muur vertel. Want net ’n dag nadat hy Sophia langs hom opgeplak het, het “oom Hendrik” afgeval, en daarmee saam sy ereplek verloor. “Sophia het my gered.”

 

Hy het desjare vir haar begin skryf; sy het teruggeskryf. En in 1975 het hulle vir die heel eerste keer in Parys ontmoet. Hul sonderlinge vriendskap is vandag nog vir hom kosbaar. “Natuurlik gesels ons nog.”

 

Evita looi vandag nog die politici in haar vertonings, maar politiek is daar nie destyds in die Uys-huis gepraat nie – selfs al was dr. DF Malan ’n neef van Hannes. “Pa het gesê: Politiek is ’n vuil ding, ons praat dit nie hier nie. En dit was dit. Dit was interessante amok wat ek in die familie gemaak het toe ek begin grappe maak oor politici. Arrogante en stupid mense met soveel mag trap altyd in dieselfde slaggat. Dis eintlik waaroor die gelag gaan, jy weet.”

 

Die jong Pieter-Dirk was lief vir lees en sy alleentyd. Op skool was hy die kleinste outjie in die klas. “Die groot seuns het altyd gesê: ‘Uys, jou bliksem!’ Dan trek hulle my broek af en gooi dit doer in ’n boom. En daar loop ek dan in my onderbroek in by die klas. Almal het gelag.” Miskien het alles vir hom juis daar begin, sê hy. ’n Gesanik was daar nooit nie, hy het alles tot sy eie voordeel ingespan.

 

“Ek het geweet as ek probeer terugbaklei, dan donner hulle my. Hulle was groter as ek en as ek hulle laat lag, kan ek weghol en wegkruip in die meisies se toilette. En dit hét so gebeur.”

 

Op skool was hy goed bewus van die kadette, die uniforms rondom hom. Is daar oorlog wat kom, het hy selfs op ’n kol gewonder. “Ek was nege maande lank in die vloot. Wag, eintlik sou ek eers na ’n kamp buite Potch gaan waar trokke reggemaak word. Toe dink ek: Nee, darlin’ I am not, I’m sorry. Ek het vir oom PW (Botha) ’n brief gestuur – hy was destyds die minister van verdediging –  en ek’t gesê ek wou liewer vloot toe.”

 

Hy het nie die soort seuns geken wat hy daar in die vloot sou ontmoet nie. “My vriende was kaalvoetseuns, arm mense van die verkeerde kant van die spoorlyn. Ek was 18 en toe skielik bewus van ander soort mense; dit was nogal interessant. Maar ek het ook vir hulle op die ou end aan die lag gekry.

 

“Ek wou eers ’n onnie word en is na UCT. Nee, Stellies toe, het Hannes gebulder, maar Pieter-Dirk wou nie. Nooit. “Pa, ek sal moet koshuis toe op Stellenbosch en dit gaan geld kos,” het hy die jêm gesmeer. “Nee, o hel, liewer dan UCT.”

 

Hy was ingeskryf vir ’n BA in Onderwys met hoofvakke Geskiedenis en Engels. Toe sien hy ’n meisie met ’n baret op die kop, sigarethouer in die hand, in die kafeteria. “Sjoe, sy was mooi. Phyllis Punt was haar naam. Sy was daar vir ’n dramakursus.” In sy tweede jaar kies hy toe drama en Hannes het vir ’n maand lank niks met hom gepraat nie.  

 

Tydens die apartheidsjare kon daar wel mense van kleur by UCT studeer. Token-studente, noem hy dit. Hy vertel van die twee jong mans in sy klas – een bruin en die ander swart. Op kampus het hulle baie dinge saamgedoen as broers, sê hy – saam aan take gewerk – en met die huistoegaanslag skiet almal in verskillende rigtings. Pieter: “Ons kon nie buite kampus saam drankies drink of kuier nie. Die ongemaklikheid daaroor was al vir my daar as jongmens. We are separated by a fence, a train line and apartheid, a million miles away from each other.”

 

Daar was ’n keer toe Hannes hom uit die huis gegooi het. Hy brei nie verder uit nie. Sy en Hannes se verhouding was stram, maar hy sou nie daarna as “vassit” verwys nie. “Ons het net nie gepraat nie. Vassit is nog oukei. Toe sien ek op ’n dag in Die Burger dat Connie Mulder, destydse Minister van Binnelandse Sake, vooraanstaande mense soek om deel te word van die sensuurraad. Ek dog toe: Dis nou iets vir pa. Ek bel hom. Hy antwoord knorrend die foon. Ek sê: Pa, jy kan ’n sensor word. Jy kan movies gratis en uncut kyk. En hy was daar soos ’n shot. Dit het toe alles verander en twee weke later nooi hy my huis toe vir ete. Die lewensfilosofie wat hy toe vir my gegee het: Moenie dat die sensors jou bang maak nie, maak hulle belaglik. En dis wat ek vandag nog doen. My werk is om mense te laat lag vir hul vrees.”

 

Vir hom is daar ’n reuseverskil tussen komedie en humor. Komedie is die grap – jy onthou die grap om die grap oor te vertel. “Maar humor is iets heeltemal anders. Elke mens het ’n totaal unieke sin vir humor, dis soos ’n vingerafdruk.”

 

Wel, dis iets wat hy kán doen. Hy hét ’n sin vir humor. En hy kán mense laat skaterlag. “En ek moet immers die waarheid praat. Dit help nie ek las stertjies by nie. Kwaad werk nie in ’n teater nie. Mense gee nie net hul geld nie, hulle gee hul tyd. Ek wil hulle nie bedonner nie.”

 

Is hy ooit self bang vir die kakofonie wat sy uitlatings meebring? “Vir wat? Ek was nie destyds bang vir politici nie; ook nie nou nie. Evita het my ontsaglik baie gehelp. Piet Koornhof het destyds die hardste gelag as ek met hom die gek geskeer het. Mense moet weer leer om te lag, man.”

 

Evita het werklik oor die jare heen gegroei. “Aan die begin was sy amper soos ’n drag queen, en ek moes besluit: Gaan sy poepgrappe vertel? Nee, sy sal nie. Ek moet respek hê vir haar soos ek respek het vir ander. Daai tyd was dit nog teen die wet om vroueklere in die openbaar te dra. Natuurlik kon jy as dit in ’n toneelstuk was. Ek wou ’n tannie doen – die mag van die tannies moet nooit onderskat word nie. Vir elke suksesvolle Broederbonder was daar ’n suster. Make no mistake.

 

“Die mense wou weet of hierdie vrou ’n man het. Ja, sy het. En toe vra Barry Hough vir my eendag wat haar van is. Langs sy kop was daar ’n poster – een of ander stuk van Aletta Bezuidenhout … The Seagull. En daar kry sy toe haar van: Bezuidenhout. Dit was in 1981. Nelson Mandela het haar soos ’n lady behandel: Evita, you look so beautiful.”

 

Tannie Evita was nie ’n manier om Pieter-Dirk aan die gang te hou nie, benadruk hy. En daar word nie geproes vir sy grappe nie. “Sy sê: Wat is so snaaks aan hierdie belaglike, derderangse komediant. Oukei, hy’t ten minste mooi bene.”

 

Hoe besluit hy wat volgende kom? “Ek volg die nuus, ek lees als. Evita gaan binnekort laat weet dit was haar skuld, al daai dinge op Cyril se plaas. Dis haar geld in die rusbank. Cyril het rusbank gehoor, maar Evita het gesê: Sit dit in die Russiese bank.”

 

En dan is daar Darling. Vandag steeds sy darling. Hy teug uiteindelik aan sy tee voor hom. Covid het die deure van Evita se Perron toegemaak. Dit was die einde, sê hy.

 

“Ek moes ’n permit kry van die polisiekantoor om my katte te gaan voer … Tot daai dag in die Spar, masker op die gesig, op sy rooi merk in die lyn. Daar raak ek aan die gesels met Hentie en Fritz, die eienaars van die gewilde Darling Sweet, daai fantastiese toffieplek. Hulle wou weet wat ek gaan doen met die Perron. En as ek ooit sou besluit om te verkoop, moet ek met hulle praat. Hulle het dit gekoop en meer daarmee gedoen as wat ek in 25 jaar kon regkry. En dis absoluut fantasties. Ek doen steeds my show daar. Ek woon daar en werk daar en is dol daaroor. Ek is dol oor die gemeenskap. Ek doen presies wat ek wil, en as mense nie daarvan hou nie, Darlin’, Game of Thrones, go watch that …”

 

Tannie Evita het intussen haar voorkoms verander en spog nou met ’n mooi grys kapsel. “Dit het haar sommer nuwe energie gegee. Hier is sy nog steeds en ek het gedink dit is verby.”  

 

Maar die ding is dat mense van the new normal praat, sê Pieter-Dirk. “Nothing is new and nothing is normal. Die teaters sukkel ontsaglik. The habit is gone, ek wil amper so sê.”

 

Sy eie toekomsplanne? “Daar is ’n TV-ding wat in Januarie kom. Watch this space. Dis ’n wonderlike ding. Ek wil hê die hele Kaap, die hele wêreld, moet dit geniet. Ons het juis nou so iets nodig.”

 

En die jong Pieter-Dirk, wat sou hy wou verander? “Ek is gedurig besig om van bangheid te praat, maar ek is tog bly ek was as kind bang vir die lewe. Anders sou ek voor 45 dood gewees het. I missed the drug and sex boat, thank God. Moenie bang wees om bang te wees nie, sê ek altyd vir die skoolkinders tydens my praatjies.”

 

En hy het nooit enige woede laat seëvier nie. “My resep tot vandag toe is 49% woede teenoor 51% vermaak. Dis ’n baie, baie fyn lyn. Want niemand gaan na preke en gille kom luister nie.”

 

Jan RSVP is wêreldklas-gehalte, sê Pieter-Dirk oor sy onlangse verskyning op die program. “Carien Loubser is ’n genie. En Tannie Evita was ook daar – dit was ’n fabulous ondervinding. VIA kan regtig trots wees op iets soos daai, wêreldklas hoor, wêreldklas.”

 

Pieter-Dirk Uys is die gas van Michelin-ster-sjef Jan Hendrik van der Westhuizen op Sondag 13 November om 20:30. Heruitsendings is Maandae om 22:00. VIA (DStv-kanaal 147) se programme is ook beskikbaar op Catch Up en in die DStv-app.