Articles About Pieter-Dirk Uys

(additional articles about PDU can be found in the Archives)

pdu perron 3 - crop1

Vandag se jong mense ‘het ‘n hele nuwe alfabet’ sê Pieter-Dirk Uys
– Nadia Swart, Netwerk24, 8 September 2026

Daar’s ‘n nuwe alfabet om te leer, die alfabet van vandag se jong mense, en op byna 81 is
Pieter-Dirk Uys gereed vir hierdie uitdaging. In ‘n onderhoud met die ikoon van die
Suid-Afrikaanse teater, het Nadia Swart besef min dinge gaan hom stuit.

Die gesprek met Pieter Dirk-Uys vind op ‘n koue Donderdagmiddag in sy ou Kaapstadse
woonstel in Tuine plaas. Die son lê warm op sy toegeboude stoep, totdat jy in die
skaduwee gaan sit en die koue van die laat herfs aan jou vel voel.

In Uys se woonstel staan ‘n groot klavier en ou houtmeubels, ‘n klein tafeltjie en ‘n hoekbank dra die patina van ‘n huis waarin baie jare verbygegaan het.

Uys — een van die bekendste figure in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf, wat op 28 September 81 word — sit rustig tussen dié meubels. Hy dra ‘n swart vliesbaadjie en ‘n ewe swart sweetpakbroek. Hy is sonder grimering, en hy is nie bang om sy grys hare te wys Nie.

Ons praat oor die uitsig en hoe mooi Tafelberg is.

“Die natuur is só ‘n fantastiese show off”, sê hy met helder oë.

Die gesprek skuif gou na ouderdom en Uys maak dit duidelik dat sy 80 jare nie beteken dat
hy homself as ‘n ou man beskou nie.

“Hier in my kop is ek dieselfde ouderdom dwarsdeur my hele lewe,” sê hy. “Dis as ek in die
spieël kyk dat ek bietjie dink: ‘Oeps, hallo!'”

Daar is ‘n eenvoudige rede waarom sy vel nog so goed lyk, meen hy — Johnson’s-baba-olie. Uys gebruik dit al sowat 40 jaar wanneer hy sy grimering afhaal en verkies dit bo die duurder produkte wat daarvoor bemark word.

“As dit goed is vir ‘n baba se boude, is dit goed vir my gesig,” sê hy.

Om werk aan sy gesig te laat doen, is egter nie ‘n opsie nie.

“Ek gril my dood vir die idee van ‘n naald in my gesig, dis erg genoeg dat ek môre moet tandarts toe gaan!”

Uys, die man wat Suid-Afrika vir dekades deur sy karakters en satire laat lag het, neem steeds sy werk baie ernstig op.

Nog lank nie klaar

Hy het sy loopbaan in 1969 begin en oor dekades ‘n reeks onvergeetlike karakters geskep wat hom in staat gestel het om Suid-Afrika se politiek en samelewing van nader te bekyk.

“Daar is mense wat aftree as hulle 60 is, maar ek tree nie af nie. Dis my werk en ek doen my werk volledig.”

Uys vertel dat die verhoog vir hom ‘n aanhoudende proses van kyk, luister, skryf en aanpas is. Die wêreld en sy politiek verander en so ook moet Uys se karakters daarmee saam verander. Selfs die politici wat hy as monsters beskryf, moet vir hom volledig genoeg wees om op die verhoog te bestaan. Hy sê ‘n karakter kan belaglik wees, maar nie goedkoop nie.

“Ek het respek vir al my karakters, al is hulle ‘n klomp donners.”

Sy satiriese onderwerpe is immers nie bedoel om iemand bloot voor ‘n gehoor te verneder nie. Hy wil eerder hê mense moet uit hul gemaksone geruk word, al is dit net vir ‘n oomblik.

Die idee dat lag ‘n manier kan wees om vrees te verklein, het sy wortels in sy verhouding met sy pa, Hannes, en speel af in die donker jare van apartheid.

Uys het by die destydse Ruimte-teater in Kaapstad gewerk, waar swart en wit akteurs saam op die verhoog was en mense van verskillende rasse saam kon sit. Hannes was bekommerd oor die gevare wat gepaard gaan met sy seun se werk en het hom in ‘n stadium selfs uit die huis geskop.

Later het pa Hannes egter self deel geword van die wêreld wat Uys wou bevraagteken toe hy in die Publikasieraad — oftewel die “Sensorraad” in die volksmond — gedien het.

Uys het daardie tyd in Die Burger gelees dat die regering vooraanstaande Afrikaners soek om in die raad te dien en sy pa uiteindelik daaroor uitgevra en hom laat aansluit. Daar het sy pa besef tot op watter vlak Uys se werk die raadslede se werk uitgedaag het.

Toe kom die raad van sy pa wat hy nooit sal vergeet nie.

“Bokkie, maak hulle belaglik.”

Dié woorde het vir Uys ‘n belangrike les geword. As ‘n mens kan lag vir dit waarvoor jy bang is, verloor dit sy mag oor jou psige.

“Dit is vir my ‘n verlossing,” sê Uys. “As ek lag vir ‘n ding, lag ek vir iets wat ek gevrees het, maar nie meer doen nie.”

Die vrou wat SA se mense geskep het

Dié beginsels loop deur een van sy bekendste karakters — Suid-Afrika se gunsteling-wit vrou, Evita Bezuidenhout.

Bezuidenhout het in 1975 begin as iets wat aanvanklik net vir ‘n naweek bedoel was, sê Hy.

Sy het ontstaan uit ‘n grappie oor Afrikaanse tannies by ‘n partytjie en “het begin ontwikkel in karakter en mense wou weet wie Bezuidenhout is, of sy kinders het, haar lewensverhaal. Alles wat Bezuidenhout is, kom uit wat mense vooraf gevra het,” sê hy. “Ons almal het haar saam geskep.”

“Net omdat sy nie bestaan nie, beteken dit nie sy is onwerklik nie,” sê Uys.

Daarom is Bezuidenhout se wêreld oor die jare met dieselfde aandag opgebou as enige ander persoon. Haar geskiedenis moet voortdurend klop, sowel as haar woordeskat, taalgebruik en manier van dink.

Selfs die feit dat sy nie vloek is nie, is doelbewus, sê Uys. Hy wil hê kinders moet ook die vertonings kan bywoon sonder dat ouers bekommerd hoef te wees oor wat hulle op die verhoog gaan hoor.

“Dit is deel van die dissipline van die karakter,” verduidelik hy.

Terwyl hy oor sy karakters praat, word die stilte in sy salige woonstel skielik verbreek deur
‘n bekende gemiaau.

Vegan, Uys se 16-jarige kat, het besluit sy wil ook hoor wat hier bespreek word. Uys se liefde vir diere is duidelik, met twee katte wat by sy restaurant-teater Evita se Perron woon en een by sy huis in Darling. Vegan is sedert die onderhoud oorlede en die nuwe toevoeging tot die huishouding is Babaganoush, “‘n Ragdoll-prinses” soos Uys haar Beskryf.

“Om jou lewe te deel met diertjies is fabulous,” sê hy. “Jy weet, ek het nie kinders nie, maar ek het katte en die mens se siel begeer iets wat net gelukkig is om saam met jou te wees.”

Uys trek egter ‘n duidelike onderskeid tussen die diere wat deel van sy daaglikse lewe is en die talle karakters wat sy verhooglewe bevolk.

“Hulle woon nie saam met my nie,” sê hy en lag terwyl hy die beeld skets van ‘n man wat met tientalle karakters moet saamleef en elke aand moet besluit watter een in die huis slaap en watter in die motorhuis gaan bly. “Nee, nee, nee. Hulle is net karakters.”

Die kostuums en rekwisiete word in sy solder in Darling gehou en hy beskryf homself as ‘n soort verhoogbestuurder van sy eie verbeelding. Alles moet gereed wees, want binne 24 uur kan iemand hom skakel en vra hy moet kom optree.

Hierdie soort dissipline is wat hom help om ná al die jare steeds by nuwe gehore uit te Kom.

Die wêreld verander, Uys ook

Uys weet ook die wêreld waarin vandag se jong mense grootword, is nie dieselfde as die een waarin hy grootgeword het nie.

“Julle het ‘n hele nuwe alfabet,” sê hy. “Ek moet dit leer.”

Uys geniet ook die manier waarop jong Suid-Afrikaners tale meng en is veral lief vir Afrikaaps. Hy sê dit is ‘n “wonderlike mengsel van dinge”.

Waar taal vroeër vir baie mense ‘n stel reëls was wat streng bewaak moes word, sien hy nou ‘n land waarin mense gemakliker verskillende tale in dieselfde gesprek gebruik.

So ook sê Uys hy het nooit opgehou om homself aan te pas en sy optredes te verbeter nie. Daar is steeds nuwe vertonings en nuwe idees wat blom. Hy is tans in die pylvak van Bezuidenhout se outobiografie wat hy in Afrikaans en Engels skryf, terwyl hy ook aan ander toekomstige projekte werk.

Die volgende paar jaar is in sy dagboek aangeteken, maar hy sê “vandag en môre is in ink geskryf” en “die dag daarna is nog in potlood”.

Wat is sy grootste prestasie ná meer as ses dekades in die vermaaklikheidsbedryf?

“Die feit dat ek steeds hier is. Dit is al.”