Forum: Mý Suid-Afrika is nie Europa nie
– Pieter-Dirk Uys, Die Burger, 7 September 2013
My Suid-Afrika is nie Kuba of China of die VSA of Europa nie. My Suid-Afrika is (nog) nie Zimbabwe nie. My Suid-Afrika is ’n 19-jarige tiener op die punt van volwassenheid met ’n nasie waarvan die reënboog dringend herskep moet word, skryf Pieter-Dirk Uys.
My Suid-Afrika huisves amptelik 50 miljoen mense van alle kleure, gelowe, godsdienste en geslagte. As ons die nie-amptelike vlugteling-bevolking uit lande soos Zimbabwe, Mosambiek, Angola, Namibië en Somalië byreken, kan dié syfer nader aan 65 miljoen trek.
My Suid-Afrika het vandag duisend skakerings van swart, en die reënboog moet dringend herskep word.
My Suid-Afrika is geseënd met gawes van kommunikasie. Ons het 11 amptelike tale. Niemand kan ooit sê hy of sy het nie geweet wat aangaan nie: Iemand sal dit mettertyd in sy of haar taal sê.
My Suid-Afrika het nie sy naam verander met die geboorte van sy demokrasie nie, maar talle van ons paaie, strate en dorpe moet hul adresse hersien. Hoe lank kan ons nog in Hendrik Verwoerd-boulevard, John Vorster-laan of P.W. Botha-straat ry sonder om naar te word?
My Suid-Afrika is nie Nederland nie, waar hulle dink hulle verstaan Afrikaans en nie daaraan herinner wil word dat Verwoerd, die argitek van apartheid, Hollands was en nie Afrikaans nie.
My Suid-Afrika is nie die Verenigde Koninkryk nie, want gelukkig het baie van ons rassistiese jongmense ons reënboogland verlaat om in die De la Rey-styl hul eie Blankostan-tuisland in die Londense woonbuurt Richmond te vestig.
My Suid-Afrika is nie Europa nie, ongeag hoe hard sommige van ons probeer. Swart mense is eens “Non-Europeans” genoem, wat ironies genoeg meegebring het dat talle Australiërs en Kaliforniërs toilette gebruik het wat vir swart mense bedoel was.
My Suid-Afrika is nie Australië nie, al het soveel Suid-Afrikaners na daardie verafgeleë kolonie geëmigreer dat die gemiddelde IK van albei dié lande opgeskiet het.
My Suid-Afrika is nie Rusland nie, al het die meeste lede van ons ANC-politburo by die Universiteit van Moskou of die Kollege van Leningrad deurgeskraap, en al verberg hulle hul Stalinistiese neigings onder ’n oppervlakkige liberale gebabbel en gebare-politiek.
My Suid-Afrika is nie China nie, maar ’n nuwe Chinese winkel open elke week sy deure in die hoofstrate van ons dorpe. Dit verleen geloofwaardigheid aan die ou gerug dat die Chinese die wêreld sal regeer wanneer Robert Mugabe se 100 jaar-termyn ten einde loop.
My Suid-Afrika is nie die VSA nie. Eens het die Amerikaners ons geïnspireer met hul reservaatstelsel vir Indiane, waarop ons toe ons apartheid-tuislandbeleid geskoei het. Ons het aanbeweeg; hulle het steeds hul reservate.
En nou kan ons Afrikaners trots daarop aanspraak maak dat ons as inspirasie vir die huidige Amerikaanse president dien. Ons het eens ons politieke gevangenes sonder verhoor op Robbeneiland toegesluit. Vandag doen Barack Hussein Obama dieselfde ding in Kuba.
My Suid-Afrika is nie Kuba nie, al het ons ook ’n Kommunistiese Party met toekomsplanne wat wag om aan die Castro’s politieke asiel in Pretoria te verleen as Obama besluit om Guantánamo-baai uit te brei.
My Suid-Afrika is nie Israel nie, waar hulle ’n skeidingsbetonmuur van 8 m hoog gebou het om hul vyande uit te hou, terwyl ons ’n demokrasie geskep het om almal te probeer binnehou. Maar ’n woord van dank aan Tel Aviv vir die atoombomme; ons apartheidsregime moes die spiere op die een of ander manier teen ’n onvriendelike demokratiese wêreld bult.
My Suid-Afrika is nie die bloeddeurdrenkte Irak nie, wat nou al ons voormalige polisiebeamptes ingevoer het om veiligheidsdienste te verrig. Ons het waarskynlik die grootste nie-amptelike weermag daar! Jy kan daar ’n “lekker dop” vra en dit kry.
My Suid-Afrika is nie Afganistan nie, al is op ons paaie net soveel viertrekvoertuie. Hulle word egter nie bestuur deur geharde soldate wat masjiengewere vasklou nie, maar deur besope politici, die nouveau noir en anoreksiese ma’s met ’n selfoon aan die oor gekluister.
My Suid-Afrika is nie Zimbabwe nie. Nog nie.
My Suid-Afrika het die wonderlikste grondwet ter wêreld. Ons het ’n handves van regte. Ons het ’n ongelooflike waarheidskommissie gehad.
Ons word geïnspireer deur Nelson Mandela en Desmond Tutu. En wie het die res van die wêreld? Die Kardashians.
My Suid-Afrika het die grootste voorkoms van MIV/vigs ter wêreld gehad. Ons het sowat 1 000 mense per dag verloor omdat die regering 10 jaar lank niks gedoen het nie. Nou lei ons Nommer Een van voor af uit die stort.
My Suid-Afrika is opwindend, vreesaanjaend, warm, koud, droog, nat, heuwelagtig, plat, vol, leeg, arrogant, vriendelik, gevaarlik, sagmoedig, nierassig, rassisties, ryk, arm, gesond, siek, hoopvol, korrup, ondraaglik en verslawend.
My Suid-Afrika het nie die verlede vergeet terwyl vorentoe na die toekoms gekyk word nie.
My Suid-Afrika is waar geen demokraat nog vantevore was nie. Dit is die bloudruk vir hoop waar alles eens hopeloos gelyk het.
My Suid-Afrika bou ’n toekoms in die kwynende voetspoor van wanhoop.
My Suid-Afrika is ’n 19-jarige tiener op die punt van volwassenheid met al die verwardheid, verwagtinge, eise, vrese en fantasieë wat daarmee gepaard gaan.
My Suid-Afrika is my huis.
Pieter-Dirk Uys is ’n Suid-Afrikaanse satirikus, aktief as ’n uitvoerende kunstenaar, outeur en sosiale aktivis.