‘Evita in Excelsior’ maak kykers deel van Tannie Evita se sonderlinge binnekring
kykNET se nuwe kamma-dokkiereeks, ‘Evita in Excelsior’, bied ’n besonderse geleentheid vir kykers om deel van Tannie Evita Bezuidenhout se unieke – en eksentrieke – binnekring te word.
– André-Pierre du Plessis, terloops, 23 January 2023
Daar is iets baie gemaklik aan die kykervaring wat die plaaslike kamma-dokkiereeks Evita in Excelsior bied. Dit voel tegelyk asof jy na iemand van ’n afstand afluister, én asof alles wat jy sien en hoor mos natuurlik ook vir jou oë en ore bedoel is. Die kyker word as’t ware deel van Excelsior se unieke lot inwoners. Só luister ons saam-saam aandagtig na al Tannie Evita Bezuidenhout (Pieter-Dirk Uys) se stories.
Die kamma-dokumentêre styl waarin dié kykNET-program geskiet is, het juis dít ten doel gehad. Om die kyker ’n meer intieme blik te gee oor wat in Tannie Evita se hoogs persoonlike huishouding plaasvind.
Elke huis het sy kruis
Excelsior is ’n ANC-eiendom, iewers in Johannesburg, waarna Evita (tydelik) omsien. Sy’s nie seker oor hoe lank sy nog daar kan woon nie, maar met die dat haar man, Hasie, bedleënd is, het sy ’n versorger, Ella (vertolk deur Vinette Ebrahim), en ’n butler, Cecil (Royston Stoffels), wat in dié grootse huis saam haar en haar buitengewone gesinnetjie woon.
As jy oor die laaste paar jare vir Tannie Evita in Darling by Evita se Perron gaan kuier het, sal jy waarskynlik al van dié gesin (en die kopsere wat hulle vir Evita gee) gehoor het. Dis egter nou eers wat dié karakters op die skerm lewe kry.
Al drie Bezuidenhout-kleinkinders woon saam met Tannie Evita: Winnie-Jeanne (vertolk deur Veronique Jepthas), Nelson-Ignatius (Ayden Cloete) en LaToya-Ossewania (René Cloete).
Daar is ook ’n familievriend, Sammy (Brent Vermeulen), wat Evita onder haar vlerk inneem en uiteindelik een van die heerlikste storielyne in die hele reeks word. Evita se destydse sekretaresse, Bokkie Bam (Lizz Meiring), sluit ook by die ensemble aan om Evita te help as sy dan besluit om haar outobiografie te skryf. Dan is daar ook Evita se persoonlike chauffeur, ene Blackberry (Tevin Musara).
Meer as net ’n portretstudie
Enige ongemaklike en buitengewone situasies wat Uys met hierdie nuwe reeks probeer aanspreek, word met die nodige sensitiwiteit hanteer. Dís deels te danke aan die uiters bekwame hande van Tinarie van Wyk-Loots as regisseur en Carien Loubser as vervaardiger. So word dit dan meer as net ’n portretstudie van Evita Bezuidenhout en die harde lesse wat sy sedert 1942 as sewejarige Evangelie Poggenpoel op Bethlehem moes leer.
Die program dien ook om te herinner dat Uys een van ons land se voorste onderhoudvoerders is. Elke episode begin met ’n insetsel van haar destydse M-Net-reeks, Funigalore. Vir dié reeks het sy in 1994 onderhoude met 12 politici, waaronder Joe Slovo, Nelson Mandela en Cyril Ramaphosa, gevoer.
Halfpad deur elke Evita in Excelsior-episode nooi sy op ’n soortgelyke manier regte bekendes oor vir tee en koeksisters. Evita se onderhoude met onder andere Cheryl Carolus en Kobus Wiese is goeie televisie omdat Evita só goed is. Sy weet presies hoe om mense op hul gemak te laat voel.
Wat kón gewees het
Die program kon egter meer trefkrag gehad het en ’n veel groter gehoor gelok het as daar byvoorbeeld ’n poging was om dieselfde politici in Funigalore ook na Excelsior te nooi. Episode twee begin byvoorbeeld met Evita wat in 1994 saam met Ramaphosa visvang. Ons sou graag wou hê dat iemand wat eens op ’n tyd só ’n nabye verhouding met ons huidige president gehad het, ’n geleentheid kon gebruik om Cyril onder kruisverhoor te plaas. Dis natuurlik nie die bedoeling van enige Evita-onderhoud nie, maar sy sou waarskynlik die een of ander onverwagte antwoord uit Cyril kon kry.
Dalk hét Uys wel so iets in gedagte gehad maar die presidensie het hom dalk bloot geïgnoreer. Maar wat van ’n herbesoek aan Patricia de Lille wat Evita aan Khayelitsha voorgestel het?
Uiteindelik is Evita in Excelsior beide nostalgies en tragies. Die verval van die huis waaraan sy desperaat vasklou, maar uiteindelik van uitgesit gaan word, is ’n sinnebeeld vir baie post-1994 drome en ideale. Anders as Pieter-Dirk Uys se melankoliese verhoogstukke waarmee hy die gehoor minstens hoop gee voordat hulle Evita se Perron verlaat, verleen die einde van elke Excelsior-episode nie veel hoop oor die desperate, dikwels elektriteitslose, oomblikke waarin Suid-Afrikaners hulself nou bevind nie. Dit wil eerder voorkom asof Uys ons bloot wil herinner dat ons, soos Evita, ’n goeie lewe gelei het. Én dat ons, soos sy, nie enigiets anders moet verwag nie.
“Dankie Vader,” sê Evita aan die einde van ’n episode waar sy in donkerte (weens Eskom, hoe dan anders?) voor ’n spieël langs ’n kers sit, “dat ons deel van (Mandela se) plan was.”
Kyk dit op kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Online of op Catch Up.
Paarlse aktrise beïndruk in ‘Evita in Excelsior’
– Chantélle Hartebeest, Paarl Post, 12 January 2023
Dit is ’n trotse ervaring vir die jong Paarlse aktrise Veronique Jepthas, wat deesdae saam met Evita Bezuidenhout in die mini-reeks Evita in Excelsior op KykNet te sien is.
Volgens KykNet is Evita in Excelsior ’n dramedie van vier episodes, wat in ’n dokumente^re styl geskiet is. Die reeks het Dinsdag op DStv-kanaal 144 begin. “Dit sluit van Evita Bezuidenhout se geliefde storiemonoloe¨ in, sowel as ’n paar ikoniese onderhoude wat herinner aan haar veelbewoe¨ geskiedenis en belangrike bydrae tot Suid-Afrika.”
Evita, wat beskou word as ’n komediant, aktrise en politieke aktivis, is die alter ego van die Suid-Afrikaanse kunstenaar, skrywer, satirikus en sosiale aktivis Pieter-Dirk Uys.
In die reeks is Evita op 87-jarige ouderdom nog volstoom besig om haar beste lewe te leef. Sy en haar drie kleinkinders, Winnie-Jeanne (19), Nelson-Ignatius (16) en LaToya-Ossewania (13), woon in Excelsior. Dit is ’n ou herehuis in Johannesburg, wat sy namens die ANC bestuur. Evita doen dit als terwyl sy ook aan haar outobiografie skryf.
KykNet verduidelik in ’n persverklaring “Evita verteenwoordig baie van die vrese, verwagtinge en vooroordele van haar generasie, maar sy is ook bewus van die noodsaaklikheid van luister en lag, hoop met humor en koeksisters met rooibostee. Sy moet aanpas — nie net met die daaglikse woelinge van demokrasie nie, maar ook met die jonger geslag, ’n vinnig veranderende wêreld en haar ouderdom. Tussen haar outobiografie en besoeke aan Luthuli-huis hou die familie haar besig met tienerprobleme en moderne opinies. Evita probeer byhou, maar wonder tog wat op aarde TikTok is.”
Jepthas vertolk die rol van Winnie-Jeanne Makoeloelie-Bezuidenhout. “Ek is die oudste kleinkind en is ’n vurige 19-jarige aktivis wat alewig die een of ander probleem op kampus oplos — ’n stylvolle dame, wat Gogo beskryf as Prinses Winnie-Jeanne,” verduidelik Jephtas.
Die 26-jarige voel geëerd dat sy deel van die reeks kan wees — nie net vir die rol wat sy vertolk nie, maar ook omdat sy saam met verskeie gesoute akteurs kon werk. Dit herinner haar aan die keer toe sy saam met wyle Sharlene Surtie-Richards aan die fliek Swirl gewerk het.
“Ek het ’n paar weke gelede opnuut besef dat ek van die gelukkiges was wat saam met Sharlene gewerk het. Hierdie voel ook so. Pieter is ’n darling en Tannie Evita ’n groot lief met ’n stout sin vir humor. Aunty Vinette (Ebrahim) ken ek al ’n hele ruk en dis ons tweede projek waar ons so naby aan mekaar werk; dis altyd lekker. Sy is soos ’n ma en ’n baie goeie vriendin. Uncle Royston (Stoffels) is ’n grapjas, maar vol liefde en gee baie lekker drukkies. En die res — dit was ’n baie groot plesier. Dit was ook vir my die eerste keer waar ek teenoor een van my baie goeie vriendinne, René Ethel Cloete, gespeel het. Ons speel sussies, en dit verruil ek vir niks.”
Evita in Excelsior is die volgende paar weke Dinsdagaande om 20:00 op DStv-kanaal 144 te sien.
Evita in Excelsior: A four part mini-series by Pieter-Dirk Uys
– Daily Maverick, 4 January 2023
South Africa’s best-known white woman receives the honour and tribute she deserves with Evita in Excelsior which starts Tuesday 10 January at 20:00 on kykNET (DStv Channel 144).
Evita in Excelsior is a dramedy in four episodes shot in a documentary style. It includes the story monologues Evita Bezuidenhout is famous for, and excerpts from iconic interviews that speak to her remarkable legacy and important contribution to South Africa.
The cast of Evita in Excelsior includes Pieter-Dirk Uys as Evita Bezuidenhout, Lizz Meiring as Bokkie Bam, Vinette Ebrahim as Ella, Royston Stoffels as Cecil, as well as Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Martin Kluge, Veronique Jepthas, René Cloete, Ayden October, Brent Vermeulen and Tevin Musara.
Also featured in the series are Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Martin Kluge, Veronique Jepthas, René Cloete, Ayden October, Brent Vermeulen and Tevin Musara.
Special guests in the series include General Secretary of the UDF and FEDSAW, Cheryl Carolus; Springbok legend Kobus Wiese; widow of ex-president FW de Klerk, Elita de Klerk; and the first South African chef to be awarded a Michelin star, Jan Hendrik van der Westhuizen.
Evita in Excelsior is produced by Brainwave Productions.
The series director is Tinarie van Wyk-Loots.
Persverklaring | press release: Evita in Excelsior
– LitNet, 29 December 2022
Suid-Afrika se bekendste wit vrou kry die eer wat haar toekom in Evita in Excelsior, wat Dinsdag 10 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.
Evita in Excelsior is ’n dramedie van vier episodes geskiet in ’n dokumentêre styl. Dit sluit van Evita Bezuidenhout se geliefde storiemonoloë in en ’n paar ikoniese onderhoude wat herinner aan haar veelbewoë geskiedenis en belangrike bydrae tot Suid-Afrika.
Die rolverdeling van Evita in Excelsior sluit in Pieter-Dirk Uys as Evita Bezuidenhout, Lizz Meiring as Bokkie Bam, Vinette Ebrahim as Ella, Royston Stoffels as Cecil, asook Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Martin Kluge, Veronique Jepthas, René Cloete, Ayden October, Brent Vermeulen en Tevin Musara.
South Africa’s best-known white woman receives the honour and tribute she deserves with Evita in Excelsior which starts Tuesday 10 January at 20:00 on kykNET (DStv Channel 144).
Evita in Excelsior is a dramedy in four episodes shot in a documentary style. It includes the story monologues Evita Bezuidenhout is famous for, and excerpts from iconic interviews that speak to her remarkable legacy and important contribution to South Africa.
The cast of Evita in Excelsior includes Pieter-Dirk Uys as Evita Bezuidenhout, Lizz Meiring as Bokkie Bam, Vinette Ebrahim as Ella, Royston Stoffels as Cecil, as well as Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Martin Kluge, Veronique Jepthas, René Cloete, Ayden October, Brent Vermeulen and Tevin Musara.
kykNET stel bekend, Evita in Excelsior – ’n mini-reeks deur Pieter-Dirk Uys
– Nuus, dstv.com, 07 Desember 2022
“Die pad na ’n politikus se hart is nie deur sy brein nie, maar deur sy maag!” – Evita Bezuidenhout
Suid-Afrika se bekendste wit vrou kry die eer wat haar toekom in Evita in Excelsior, wat Dinsdag 10 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.
Tannie Evita is 87 jaar oud en haar lewe is bitter besig. Haar drie kleinkinders, Winnie- Jeanne (19), Nelson-Ignatius (16) en LaToya-Ossewania (13) woon by haar in Excelsior – ’n ou herehuis in Johannesburg wat sy namens die ANC bestuur. Haar ou staatmaker en persoonlike assistent, Bokkie Bam, voormalige hooggeplaaste in die ontbinde tuisland Bapetikosweti, kom help Evita met haar outobiografie en dit noop hulle om weer deur die mynvelde van Suid-Afrika se verlede te trippel en ook ’n paar ou geheime uit te lap.
Evita verteenwoordig baie van die vrese, verwagtinge en vooroordele van haar generasie, maar sy is ook bewus van die noodsaaklikheid van luister en lag, hoop met humor en koeksisters met rooibostee. Sy moet aanpas – nie net met die daaglikse woelinge van demokrasie nie, maar ook met die jonger generasie, ’n vinnig veranderende wêreld en haar ouderdom.
Tussen haar outobiografie en besoeke aan Luthuli Huis, hou die familie haar besig met tienerprobleme en moderne opinies. En Evita probeer byhou, maar wonder tog wat op aarde TikTok is?
Evita in Excelsior is ’n dramedie van vier episodes geskiet in ’n dokumentêre styl. Dit sluit van Evita Bezuidenhout se geliefde storiemonoloë in en ’n paar ikoniese onderhoude wat herinner aan haar veelbewoë geskiedenis en belangrike bydrae tot Suid-Afrika.
Die rolverdeling van Evita in Excelsior sluit in Pieter-Dirk Uys as Evita Bezuidenhout, Lizz Meiring as Bokkie Bam, Vinette Ebrahim as Ella, Royston Stoffels as Cecil, asook Brümilda van Rensburg, Hannes van Wyk, Martin Kluge, Veronique Jepthas, René Cloete, Ayden October, Brent Vermeulen en Tevin Musara.
“Dit gaan alles oor stories. In die nuwe jaar, ná ’n leeftyd van kort en bondige Tannie- praatjies, is Evita Bezuidehout nou in almal se voorkamer vol sages en verhale – met lief en leed, soet en suur. Met Evita in Excelsior bewys sy dat die toekoms van Suid-Afrika seker is. Dis net die verlede wat onvoorspelbaar bly,” sê Pieter-Dirk Uys.
Spesiale gaste in die reeks sluit in hoofsekretaris van die UDF en FEDSAW Cheryl Carolus, die Springbok-rugbylegende Kobus Wiese, die weduwee van oud-President FW de Klerk, Elita de Klerk, en die eerste Suid-Afrikaanse sjef wat ’n Michelin-ster ontvang het, Jan Hendrik van der Westhuizen.
“Dit was ’n ongelooflike spesiale projek om deel van te wees, en ek is so geëerd om tyd saam met só ’n wonderlike mens te kon spandeer,” sê Tinarie van Wyk Loots, regisseur van die reeks.
Evita Bezuidenhout het in 2001 die Living Legacy-toekenning ontvang van die Woman’s International Centre in San Diego, Kalifornië, vir haar bydrae tot die plek van vroue in die laaste dekade. Vorige ontvangers van dié gesogte toekenning sluit in Hillary Clinton, Bette Davis, Moeder Teresa, Prinses Diana en Margaret Thatcher.
Dié mini-reeks herinner hoekom Evita in hierdie uitgelese geselskap hoort.
Evita in Excelsior begin Dinsdag 10 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) vervaardig deur Brainwave Productions.