(additional articles by PDU can be found in the Archives)

Uys, Poggenpoels wil vrees verjaag
– Pieter-Dirk Uys, Die Burger, 9 March 2020

Pieter-Dirk Uys en die drie Poggenpoels (of is dit Poggenpoele?) kom al ‘n lang pad saam. Al drie is aan die Suid-Afrikaanse publiek voorgestel in Uys se 1985 rolprent Skating on Thin Uys. Ouma Ossewania, toe al 85 jaar oud, is liefdevol gewys met haar naaldwerk en vriendelike blik, wagtend vir die volgende oulike oom wat by haar in Myrreweg Bethlehem sou kom loseer. Haar twee dogters maak ook hulle verskyning. Die blonde opskopdiva, Bambi Kellermann, vroeër bekend as Baby Poggenpoel, stuur ‘n boodskap uit Paraguay aan haar bekende suster, die Ambassadeur in die Tuisland van Bapetikosweti — nie ‘n vriendelike paar woorde nie. En dan daardie ander dogter, Evangelie Poggenpoel, reeds in 1985 alom bekend as Evita Bezuidenhout. En nou is hulle al drie weer terug in die publieke oog by die 2020 Toyota Woordfees, elk met haar eie vertoning in die Rhenish Skoolsaal.

Hoe het hulle verander en aangepas?

Evita het die nuwe demokrasie as ‘n uitsoekresep omhels en kook knaend vir versoening in die Luthuli-huis kombuis. Dit was a rare aanpassing; as destydse vrou van ‘n NP minister, toe diplomaat in ‘n apartheid tuisland, en nou die enigste wit lid in die ANC elite. Soos sy sugtend na die vertrek van Derek Hanekom gefluister het. ‘Ja-nee, ek gloei nou alleen in die donker!’  Bambi is terug in haar moederland na ‘n lang ballingskap in Europa. Sy’t daar bekendheid verwerf as ‘n ‘grand horisontal of the northern hemisphere’ (hoe vertaal ‘n mens dit??) en topkerf ontkleekunstenaar. Nou is sy ‘n jongerige 82 met nuwe knieë, ‘n plastiese heup en ‘n versigtige grimeringsroetine. Sy en haar befaamde suster het 40 jaar laas met mekaar gepraat. En Ouma Ossewania? Werklik 120 jaar oud? Ja, nou seker onoffisieël die oudste persoon in die wêreld. Die legendariese ou volksmoeder is egter nie op haar bek geval nie en haar verlede borrel in haar gemoed op soos ‘n verstopte nagwa. Het sy waarlik haar lewe gemors op ‘n leuen? Gloend dat apartheid ‘n Godgewe gawe was? En wat nou met die 26 jaar van demokrasie, te maklik as vloekwoord uitgespoeg word?

En jy speel al drie vroue saam?

Nee, nog nie saam op een verhoog nie. Dit sou omtrent ‘n konsert wees. Ek gee elke Poggenpoel haar 80 minute van lief en leed, soet en suur. Die Evita uiting is ‘n aanpassing van my onlangse #HeTwo opus, waar ek en Tannie saam op die verhoog wel verskyn. Evita – fake of fop is die Woordfees titel en onderstreep weereens dat, al het Evita Bezuidenhout nooit werklik bestaan nie, die bekendste vyf-en-tagtig jarige wit vrou in Afrika nogsteeds ‘n realiteit is in duisende mense se lewens. Sy word ook hier op ‘n skerm uitgebeeld in etlike visuele juwele met werklike legendes soos Pik Botha, PW Botha, Piet Koornhof, Nelson Mandela, Cyril Ramaphosa en Desmond Tutu. Bambi se monoloog Never Too Naked is meesal in Engels (te vinde in haar Duitse aksent), Vrystaatse Afrikaans en Reperbahn Duits. Sy wag vir haar suster om in die publiek met haar te versoen, soos aangeraai deur haar prokureurs: lei met voorbeeld, aangesig tot aangesig. Bambi lag. ‘Hulle sê ons sal wel eendag saam in dieselfde kamer wees. Dis net een van ons sal in ‘n kis rus. Ja-nee, en as daardie persoon my sussie is en ek kom in die kamer, sal sy uitklim en die kamer verlaat!’  En Ouma Ossewania? Hulle sê sy praat vuil, maar soos sy duidelik stel: ‘Ek vloek nooit as ek praat nie! Net as ek dink: soos nou.’ Haar antieke ouderdom word verduidelik en Dr HF Verwoerd word blameer. Op Republiekdag 1961 het hy, in die geheim ‘n charismatiese bloedsuier, vir Ouma Poggenpoel op die hand gekus uit respek vir haar nasionalisme — en haar liggies gebyt. Sy’s toe besmet met die vampier-virus. ‘n Stuk droë wors deur die hart is miskien haar enigste uitweg.

So is al drie maar net ‘n viering van fake en fop?

Ja, dis altyd die belangrikste aspek van my vermaak. Geniet en gril ‘n bietjie, lag met ‘n traan, en soos ‘n LA Times resensie dit gestel het: “Uys dons false eyelashes and presidents listen”. Uit die mond van elkeen van hierdie fake-en-fop familie kom voorstelle en kommentaar wat direkte verwysings het op die huidige situasie van vrees en vrot in ons land. Om te lag vir daardie vrees sal help om dit minder vreeslik te maak. Dit sal altyd daar wees, maar om dit in die oë te kyk met ‘n siniese glimlag kan net help.

Bespreek by Computicket vir: *Evita: fake of fop? Dinsdag 10 Maart 18h30 / *Never Too Naked: Woensdag 11 Maart  20h30 / *Ouma Ossewania Praat Vuil : Vrydag 13 Maart 15h00 (Rhenish Saal)

Never Too Naked speel by die Fugard 24 Maart tot 11 April. Bespreek www.thefugard.com