Archived Reviews of The Echo of a Noise

REVIEW of THE ECHO OF A NOISE in GRAHAMSTOWN  — JULY 2015

The Echo of a Noise: Voorste satirikus praat oor sy lewe
– Laetitia Pople, Die Burger, 9 Julie 2015

Die gordyn lig in die grootste teater op die Grahamstad-fees. Suid-Afrika se voorste satirikus sit amper verdwerg op ’n kroegstoeltjie op die reuseverhoog.

Met ’n swart mus, sy Almost Famous-oortrektrui en glimlag lyk hy soos ’n ondeunde dwerg wat deur die kollig betrap is. Binne oomblikke vul hy egter die hele ouditorium met sy teenwoordigheid. Dit is net Uys aan die woord en hy maak sy hart oop oor sy private en openbare lewe.

Die groot hare en baie bek van Evita Bezuidenhout of die rokerige draalstem van die wulpse Bambi Kellerman is gebêre vir ’n ander keer.

Dit word gou duidelik dat die titel van sy biografiese eenmanvertoning, The Echo of a Noise, nie reg laat geskied aan wat hy hier bied nie. Hy lei jou in sy binnekamer rond, neem jou die geskiedenis in en wys waar die persoonlike en die openbare bymekaar aansluit.

Vryheid van spraak is vanjaar die feesmotto en satire is hier sentraal in vertonings geplaas. Uys se alter ego Evita Bezuidenhout pryk voor op die feesprogram. Uys was en is soos ’n stem in die woestyn vandat hy vir die eerste keer in die 1960’s vreesloos op ’n verhoog verskyn het. Hy skerts die destydse sensuurraad was sy eie persoonlike skakelbeampte. Hulle het sy werk so flink verban, hulle het selfs ’n woord verbied wat Uys self uitgedink het: Genots­krots.

​Ons hoor ’n opname van Pietertjie wat soos ’n engeltjie gesing het, wat sy pa, Hannes Uys, vergesel as hy Sondae oral­oor in kerke gaan orrel speel het. Die pa vir wie hy lief was, maar van wie hy nie gehou het nie. Die grootste kritikus van sy werk, maar ook die een wat kon raad gee. Hy vertel hoe hy in sy laaste oomblikke by hom was en hoe hy dan teruggegaan het huis toe waar Sannie vra of die “master’’ dan nie wasgoed het nie.

Die gehoor verstil weer by sy rou vertelling van die selfmoord van sy Duitse ma, Helga, en die durende, uiteenlopende invloede van sy Afrikaanse en Duitse oumas op sy lewe.

Sy eerste ware kennismaking met die gedrog apartheid was in sy vroeë twintigs toe hy in ’n tuinier se kamer die Ontugwet oortree het. Hy vertel van die jong man se naakte vrees dat die polisie hom by ’n wit man sou betrap. Hoe hy eintlik verjaag is. Erger nog, hulle was besig om ’n “sonde in God se oë” te pleeg. Dit is asof Uys deurentyd die gehoor in sy vertroue neem en só alle grense verbreek.

Hy bly ’n meesterstorieverteller, wat net so vinnig met homself spot soos met al die ander wat onder sy tong deurloop.

Die stampvol ouditorium laat hoor ’n “Bravo, Pieter!” en staan soos een man op. Hierdie was waarskynlik die 7 000ste solovertoning wat hy gelewer het, maar dit het gevoel soos sy eerste . . . ’n Kunstenaar wat steeds ’n verkeersknoop buite ’n teater kan veroorsaak.