Waarom is vuil taalgebruik nodig, Pieter-Dirk?
– Die Burger, 6 April 2019
Ek lees Pieter-Dirk Uys is al weer op sy ou pad met vuil taalgebruik. Ek het jare gelede ’n vertoning van hom bygewoon, en besluit dat sy soort opvoering net vir sekere gehore bedoel is.
Dat daar waarde is in die boodskap wat Uys poog om te bring is somtyds seker waar, maar omdat hy onseker is of sy mening deur ’n gehoor as belangrik, nuut of nuuswaardig onthou sal word, tooi hy sy bewoording met vieslikheid. Dink hy regtig dat die normale mens sulke taal in die gewone gang van die lewe gebruik?
Probeer hy met agterplaas-taktiek mense se aandag te trek of te behou? Watter boodskap beeld hy uit aan die jongmense van ons land?
Dis tog bloot net die skaamtelose en gevoellose aandagsoekers wat dit noodsaaklik vind om met ’n gevloek sy standpunt te stel.
Het hy die oortuiging van sy gemoed om sy riool-aanbiedings op te dra aan enige gehoor, of sal hy dit net doen vir sensasiesoekers wat agterna net die gevloek sal onthou en dit skaam-skaam sal oordra net aan nabye vriende wat agter hul hand sal lag? Sal Uys se gehoor sy opvoering aan ordentlike toehoorders herhaal?
Die sukses van kuns lê nie daarin om goedkoop en walglik te wees nie, dit lê eerder in die diepte en langdurige waarde wat dit bied.
Dit kom voor asof Uys se stories nou opgeraak het en dat sy vervelige retoriek nie meer oorspronklik is nie. Daarom laai hy sy opvoering met skok. Die ergste is dat hy sy taalgebruik verdedig asof hy ’n gerespekteerde kunstenaar is wat aansien by die opgevoede publiek geniet.
Danie Pienaar, Strand
_______________________________________
Aan die Redakteur:
Ek is so geinspireer danksy die talle Afrikaners wat so woedend in Die Burger reageer op my onlangse vertoning van Ouma Ossewania Praat Vuil by die KKNK. Dankie tog mense luister nog. Jammer hulle storm dan uit na 10 minute, want daar is nog 60 minute wat hulle met net so veel passie sal geniet; vermaak sonder vloekwoorde, of soos hulle sê: kru taal. Die taal is Afrikaans en die variasies van emosionele beskrywings wissel van die verheerlikings tot vervloekings.
Ouma sê mos binne ‘n paar minute, na die eerste f-woord: ‘Ek vloek mos nooit as ek praat nie; net as ek dink — soos nou.’ Hoe sal ek dan so ‘n ikoon van ons volk verneder deur verkeerde woorde in haar uitings te plaas, soos landmyne in ‘n speelgrond? Ouma Ossewania is tydens die Boere-oorlog gebore. Sy’s grootgemaak as Nasionalis en Calvinis. Lid van die Vrouelandbouvereeninging en Aksie Morele Standaarde, en nou erelid van die SHB: die Steve Hofmeyr Beweging. Sy ken ook te veel dominees om ooit ‘n kragwoord te laat hoor. Maar hoe beskryf ‘n volksmoeder, wat nou aan die einde van haar lewe is, haar gevoelens as sy besef sy’t haar jare gemors? Soos so baie in ons land, het sy daardie leuen geglo en nou besef sy: nee, apartheid was nie ‘n God-gegeweg gawe nie.
Sy moet nou versigtig herdink voordat sy praat, want baie van die ou beskrywings is nou die viruses van rassisme. Dit maak haar nog banger want sy is grootgemaak met die woorde van vooroordeel in haar mond: die k-woord, h-woord, m-woord en daardie f-woord (wat ek altyd met ‘n v gespel het, tot ‘n tikster in die Publikasieraad se kantoor vir my mooi geskryf het: Meneer Uys, u spel die woord Fok met ‘n F en nie ‘n V nie.)
Mevrou Ossewania Kakebenia Poggenpoel is ook die moeder van twee fabelagtige dogters nou wereldberoemd as Evita Bezuidenhout en Bambi Kellermann. Ouma se kleindogter is getroud aan ‘n man van kleur. Haar kleinkinders is sonbrand-bruin. Haar land is uniek met sy kommunistiese party met planne vir die toekoms. Haar taal word verkleineer deur sogenaamde satiriste wat kru woorde gebruik om kruer politek uit te beeld. Die universiteite van die Taal praat nou Engels. Dis alles genoeg om enige ou boeremêns te laat vloek!
Ouma Ossewania kom al saam met my trekwaens van belaglikeid sedert 1992. Niks nuuts daar nie, behalwe dat alles vandag anders is. Die velle is van die wonde afgeruk. Die beskerming van geloof is flou. Die hoop vir môre is leeg. En daarom is Ouma se klaaglied ‘n belangrike wakkerword kielie-en-klap om op te hou met onbelangrike en nuttelose verset met woorde soos sies en kru en skande, en luister na die jonger geslag wat net kan lag vir al ons oumêns k*k.
Ouma is tans in haar Voortrekkerwa op pad na ander kultuurfeeste. Laat haar verwoede ou aanhangers hul pensioengeld spaar om te kom kyk en luister na iemand wat wel hulself kan weerspieël: ‘n deeglike gelowige Afrikaanse tannie wat nooit vloek as sy praat nie, net as sy dink. Kom dink saam.
Pieter-Dirk Uys
Darling