Archived Interviews from 2020

Pieter with Violet - crop

 

Pieter-Dirk op 75: ‘Bloed onder die brug, skat’
Die akteur Pieter-Dirk Uys word 75 op Maandag 28 September. HERMAN LATEGAN het hom amper 40 jaar gelede ontmoet by die openingsaand van Adapt or Dye (1981) in die Baxter-teater. Dit is in dié stuk dat Evita Bezuidenhout haar groot buiging gemaak het.
– Herman Lategan, Vrye Weekblad, 25 September 2020

DIT was vreemde tye. Onrus in die lug. Casspirs en soldate. Mans met snorre en grys skoene. Bosoorlog. Baasskap. Kubane. Sensuur. Verbannings. Mense wat verdwyn.

Die NG Kerk met sy skerp kerktorings wat soos PW Botha se vinger waarsku teen die Swart, Rooi en Roomse Gevaar. In hierdie versmorende atmosfeer sit ek as 17-jarige in 1981 by die openingsaand van ’n vertoning in die Baxter. Ek het geen verwagtinge nie. My vriend, die akteur Limpie Basson (saliger), het my genooi.

Ek is ’n leerling van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad waar dit by ons ingedril word om alle gesag te respekteer, om nie die status quo te bevraagteken nie en om kadetparades by te woon anders voel jy die woede van ’n rottang. (Wat het die meisies gedoen tydens “kadette”, wonder ek nou?)

Ek is geleer my volk en vaderland het my nodig, my hare moet ek kort hou en ek moet in gelid marsjeer sodat ek eendag reg is vir die weermag en paraat vir die terroriste. En hou jou bek, boeta, jy praat nie terug nie.

Daardie aand het ek vreemde mans agter sien rondloop met walkie-talkies. Het ek my verbeel? Iets opruiends was in die lug. Die teater het uit sy nate gebars, met elkeen van die 638 sitplekke volgepak.

Toe verskyn ’n man soos ’n spoggerige tannie aangetrek in ’n pienk tabberd en ’n pelsjas op die verhoog. Evita Bezuidenhout!

Die gehoor was eers heeltemal oorbluf. Dit kán mos nie wees nie. Mettertyd was daar geen keer aan hul gelag nie.

Opeens kon ons vir die absurditeite van ons politieke bestel skater. Evita het aangegaan en aangegaan en die gehoor kon eenvoudig nie genoeg kry nie.

Vir die eerste keer in my lewe kon ek sien hoe taboes blatant verbreek word. Die rebel in my het wakker geword. Iets onmoontliks het moontlik geword. Ek kon my middelvinger vir die establishment wys. Dit was vir daardie bang tiener ’n kantelpunt in sy uitkyk op die lewe.

Teen die einde het sy vir seker tien minute ’n staande ovasie gekry. Pieter-Dirk het sy pruik afgeruk en die gehoor het weer geklap.

Daarna het almal in groot stilte na die uitgang geloop. Dit was die heel eerste keer dat so iets in Suid-Afrika gebeur het.

’n Volksmoeder is gebore. Omdat sy soos so baie van die wit mense se ma’s, tannies of vroue gelyk het, kon sy met moord wegkom. Sy kon kritiek op politici lewer, in die openbaar nogal, waarvoor ander mense diep in die moeilikheid kon beland. Sy het die draak gesteek met Magnus Malan, Connie Mulder, Piet Koornhof en die ergste – PW Botha – soos niemand anders dit durf waag het nie.

Ek het uitgeloop en gedink, hierdie man moet ek ontmoet. Limpie het gesê hy sal my voorstel, hulle ken mekaar. Die kleedkamers was agter die verhoog en ek het aan die deur geklop.

“Kom binne,” het ek gehoor. Toe ek die deur oopmaak, was Pieter-Dirk besig om sy grimering af te haal.

Ek het gevoel soos die volslae groupie wat ek uiteraard was. “Vanaand kyk ek met nuwe oë na die wêreld,” het ek vir hom gesê.

Hierdie ontmoeting voel soos gister, maar dit het amper 40 jaar gelede plaasgevind.

Daarna het ons paaie gereeld gekruis deur gemeenskaplike vriende. Ek het sy eindelose medemenslikheid leer ken. In Darling het ek eenkeer gaan kuier waar daar ’n vreemde bejaarde vrou in sy kombuis gesit het.

Hulle het heerlik gesels, haar oë was waterig. Toe sy later loop, vertel hy my sy is eensaam en kom van die dorp se aftreeoord.

Dan is daar die hordes straatkatte wat hy aanneem, die vele liefdadigheidsprojekte waarby hy oor die jare betrokke is, die manier waarop hy met sy pa wat ouer geword het, omgegaan het … te veel om op te noem. Om boonop op 75 steeds jou eie werk te skep, jou eie rekwisiete in jou motor se kattebak rond te karwei en aanhoudend te innoveer en relevant te bly, wil nogal gedoen word.

Ek onthou ’n keer toe ek ook aan die ontvangkant was.

Ek is vir diensplig opgeroep en moes aanmeld in Grahamstad (nou Makhanda), waar die basis berug was vir sy harde opleiding.

Dit was winter, dit was koud, die reuk van steenkool was oral. Ek was op my laagste. Daar was baie terugslae wat ek in my destydse kort lewe moes oorkom, maar hierdie een was vir my ’n hel soos min wat ek al ondervind het.

’n Korporaal kom op ’n dag na my toe en gee vir my ’n poskaart.

Voorop was ’n foto van Evita Bezuidenhout. Agter het Pieter-Dirk namens Evita vir my ’n boodskap geskryf: “Sterkte, jou ou leftie. Alles sal regkom.”

Ek het in die badkamer agter ’n toe deur gaan sit en begin huil.

Daardie 75-hoax

Omdat Pieter-Dirk in Darling agter geslote deure is, het ek ’n vraag-en-antwoord sessie vanuit Kaapstad met hom gehad. “Ek sal graag met jou gesels oor daardie 75-hoax,” het hy belowe.

Hoe de hel voel dit om (amper) 75 te wees?

PDU: Net nog ’n syfer om jou dag te versuur. Dit voel beter as 65, 55, 45 en 13. Nou is die oudisie verby. Die disease to please is cured. Ek hoef nie meer verskoning te vra nie. Of omgee wat mense sê nie. As hulle nie hou van wat ek dink, sê of hoop nie, kan hulle met liefde gaan kak.

Jy en jou suster, Tessa, het in Pinelands grootgeword. Hoe het jou pa, Hannes, en jou ma, Helga, mekaar ontmoet?

PDU: My ma, Helga Bassel, het in 1938 net betyds uit Berlyn na Kaapstad gekom met haar klavier. Haar eerste professionele werk was in die Kaapstadse stadsaal met die orkes en ’n Mozart double concerto saam met ’n plaaslike pianis, ene Hannes Uys. So moet ek twee mense bedank vir my bestaan: Amadeus en Adolf.

Wat onthou jy van jou kinderjare? Beskryf die huis. Die familie.

PDU: Ek het nog ’n ou legkaart van ’n English country house met sy English country garden. ’n Rietdak en die boonste verdieping se vensters sit snoesig in die riete, soos my kamer in Pinelands. Baksteenskoorsteen, nes Homesteadweg 10. In die hout bo die voordeur is gekerf “SONSKYN”. Pa het die huis in 1947 gekoop. Dit was die veiligste plek in die wêreld: ons huis, paleis, pondok, nooit varkhok. Altyd Hannes, Helga, Pieter, Tessa en Sannie, ons Athlone-moeder. En kat, Boeboe. Ek is in 1994 daar weg; Tessa het dit ná ’n paar jaar verkoop. Ek ruik steeds die strooidak en nies.

Was jy stout as kind?

PDU: Very boring, soet seuntjie, met engelglimlag, blonde kuif, dierbaar en sekerlik ’n moerse pyn in die gat. Stout? Hoekom? Liewe Jesus het my mos vergewe.

Het julle elke aand vir ete aangesit en oor die dag gepraat?

PDU: Aandete was baie belangrik. Pa terug van sy werk in die Provinsiale Administrasie in Waalstraat; Ma klaar met klavierles gee in die musiekkamer; ek en Tessa terug van die skool. Sannie kook heerlik vir ons. En almal praat. Dan huisgodsdiens: Pa lees uit Psalms; ek en Tessa sê op. Psalm 103. Te lank om dan betyds bo in my kamer te wees om die Mark Saxon serial op Springbok Radio te luister.

Hoe was jou tienerjare? Was jy wulps en rebels?

PDU: Gelees aan Biggles, the Hardy Boys, Nancy Drew. Met my Dinky Toys in die agtertuin gespeel. Plastiek recordplayertjie gehad. My plate gespeel, meesal movie soundtracks. Sophia Loren-prente uitgeknip en op my muur geplak. Wulps? Miskien eers ná my voorstelling aan die pragtige sexy countess Angelique (!!). Rebels? Met dr. Verwoerd se prent op my muur? Onmoontlik. Totdat Sophia langs hom verskyn en oom Hendrik donner toe permanent van die muur af! Grazie, Sophia, jy’t my lewe gered.

Pieter Toerien het ook daar (Pinelands) gewoon as kind. Het julle mekaar toe reeds geken?

PDU: Nee, ek dink hy was ouer as ek (Toe. Nie meer nie!) Ek onthou goed daardie een Saterdagoggendkonsert deur hom gereël in die Pinewood cinema. Tessa speel klavier; ek sing. Wag nou nog vir die fooi!

Hoe oud was jy toe jou ma oorlede is en watter uitwerking het dit op jou gehad?

PDU: Ek was 24; Tessa was 21. Dit was op 26 Mei 1969. Einde van ons lewens. Ons moes van voor af begin met die belangrikste lid van die gesin nie meer daar nie. My pa kon nie meer na musiek luister nie. Nou as ek terugdink, besef ek hoe Ma se energie ná haar dood ons lewens verryk het: Tessa het meer as ’n talentvolle pianis geword; ek het begin skryf, iets wat Ma altyd voorspel het, en Pa het ’n vriendeliker mens geword.

Jy is familie van die skrywer Anna M. Louw en nog ander kreatiewe mense. Hoe werk dit? Van jou pa se kant af?

PDU: Anna M. Louw het met Ma se broer Gerhardt getrou. Hul tweelingdogters, Christina en Editha, was my beste pêlle. Tannie Anna was moers kwaai en het ons almal met die tuinslang onder die vyeboom gespuit, want sy’t gedink ons was besig om te rook, maar ek dink ons het net skurwe grappe vertel. My ander tannie, Anna Uys, Pa se suster, was ’n dierbare inspirasie met haar liefde vir die natuur, Afrikaans en rondreis. Albei tannie Annas het snaaks genoeg nooit teen my uitgevaar nadat ek met my dramas so die moedertaal bedonner het nie. Altyd my aangespoor, soms met “ … en, ag Pietie, skryf tog nou iets moois?”

Is jy vroeg reeds aan die teater blootgestel?

PDU: Pa het ons dikwels na die Hofmeyr-teater in Kaapstad geneem en daar het ons plays gesien. Ek het nooit van ’n lewe as akteur gedroom nie. Toe ek vir my tweede jaar BA by UCT gaan registreer, ontmoet ek ’n meisie in die kantien met ’n baret, lang sigarethouer en Garbo-haarstyl. Sy wou aktrise wees. Ek het saamgegaan en ook vir BA drama ingeskryf. (Ek wou ook so lyk!) Pa het die stuipe gekry; Ma was bly. En hier is ek nog: deur die teater gekaap. Life imprisonment without parole.

Toe ek my aanmeld by die Kleinteater het hulle gesê: “You don’t really show much talent as an actor. Become a stage manager.”

En dit was die begin van die res van my lewe; die beste agtergrond, want as verhoogbestuurder moet jy alles doen — en meer. Dus is ek ’n stage manager wat ook plays skryf, regie doen, publisiteit uitsnuffel, toneelspeel, ontwerp, direct, kostuums maak en soms ook die rokke dra!

Wie was die dosent wat gesê het jy moet maar liewer nie dink aan ’n loopbaan as akteur nie?

PDU: Prof. Rosalie van der Gucht, hoof van die dramadepartement, was ’n vriend van my ouers. Sy stop my een middag op die stoep van die gebou. Ek was toe in my tweede jaar, lang hare, slonserige hippieklere, sigaret in hand.

“Pieter, you are not doing your work. You are very feeble. You are wasting your parents’ money! Either pull up your socks or go and get a job elsewhere. Feeble feeble feeble!”

Ek dog: Jou ou drol! Maar 15 jaar later, in 1982, gee sy vir my die Three Leaf Award vir beste akteur.

Ek sê toe: “Prof, you won’t remember, but in my second year you told me …”

“Yes, feeble feeble feeble. It worked!”

Wat het jy ná jou studie in Londen gaan doen?

PDU: Dit was logies om verder in Engeland te leer, want my wortels in die teater was daar omdat ek jare lank die tydskrif Plays and Players deur die pos ontvang het. Ná ’n paar weke in Londen, luisterend na Laurence Olivier, Maggie Smith, Gielgud, Redgrave and the usual suspects speaking English, het ek besef hoe onmoontlik dit sou wees om daardie taal só te praat. Toe ontdek ek die London Film School en kom daar in. Ek het twee jaar daar gestudeer. Miskien het ek daar geleer om tekste te skryf. Ek sal nooit die raad vergeet van my lektor Wolf Rilla nie: “Once you’ve completed your text, cut by half and then lose 50%.”

Toe jy terugkom na Suid-Afrika, het jy dadelik by die Ruimte-teater (in Kaapstad) ingeval.

PDU: Ek loop in by Brian Astbury se Ruimte-kantoor met my eerste drama, Faces in the Wall, in die hand. “Ja,” sê Brian, “we’ll do your play. But first help us out. Robin Malan was cast as the teacher in Skyvers/Jollers and had to go to Joburg. Please can you take over the part?”

“Ja, of course. When do we open?”

“Tomorrow.”

That’s the way it was. Die Space het ook my lewe verander. Ons het almal ons tango voor die firing squad van apartheidswette gedoen met donker humor en middelvinger in die lug.

Watter van jou toneelstukke is verbied en hoekom?

PDU: Kyk in my boek Stukke teater na die redes hoekom Selle ou storie verbied is. The usual: obscenity, blasphemy, setting the racial groups in disharmony against each other … Karnaval min of meer die selle ou storie.

Vertel meer oor jou dramas.

PDU: Die eerste een, Faces in the Wall, het ek in 1969 in Londen opgevoer. Same Old Story was ’n sequel. Ek het dit herskryf as Selle ou storie en vir Kruik gestuur. Hulle’t gekots. Maar iemand daar het die teks na die sensors gestuur, want die woorde wat verbied is, het nie eens in die uiteindelike opvoering bestaan nie. Karnaval was oor die mense in Carnival Court in Langstraat oorkant my balkon waar ek gewoon het. Afrikaanse meisies wat uit die platteland gekom het en werk gekry het in nagklubs om die dokke met matrose as hul kliënte. (Albei tekste is by pdu.co.za)

Was jy gedissiplineerd en het jy elke dag ’n spesifieke tyd afgestaan om daaraan te skryf?

PDU: Dit gaan alles oor dissipline. Dankie tog het ek dit van my ouers geërf – Afrikaanse Calvinis en Duitse Jood met ’n goeie klap moffie by. Daarom kon ek sedert 1969 op my eie voete staan — unemployable, en nou kan hulle my nie bekostig nie. My skryf is gebaseer op 49% anger vs. 51% entertainment, maar ook 99% dissipline vs. 1% draadtrek!

Vertel van Karnaval.

PDU: Wonderlike cast: Trix Pienaar in lang, rooi stewels tot by haar knieë, beehive, false eyelashes en rooi mini wat opkom en sê “Check uit vir my? Poes in Boots!” Die sensors het in hulle broeke gekak. My cast is baie erg deur die verbiedings geraak. Ons het almal soos kriminele gevoel. Dit was vir my die begin van my lewenslange geveg teen political correctness. Apartheid was politically correct, so forgive me celebrating my allergy to political correctness.

Toe die Ruimte-teater toemaak, wat gebeur toe in jou lewe?

PDU: Ek het my eie geselskap gestig, SYRKEL, en getoer met Christine Basson, Val de Klerk, Lynne Maree, Wilna Stockenström, Blaise Koch, Marthinus Basson en die verbode Selle ou storie. You could see it, but not read it! Die teks was dus wettig.

Ook die revue Strike up the Banned met Rika Sennett en Trix Pienaar. Black Beauty & the Boss met Dawie Malan en Chris Galloway. God’s Forgotten is nooit verbied nie, want die titel was Engels, al was die drama totaal ondermynend teen apartheid en Afrikaner-fascisme.

Hoe het jy die rol in Tant Ralie se losieshuis losgeslaan?

PDU: Vir my was dit net een dag se skiet met San de Lange en Wena Naudé wat gedurig gestry het: ons eie Bette Davis en Joan Crawford. Dirk de Villiers was ’n verbasend goeie vriend vir ons by die Space. Ons het glad nie polities om dieselle vuur gesit nie, maar hy het altyd klein rolle vir ons gegee met goeie betaling om ons uit te help. My eerste Syrkel-toer na die Grahamstad-fees was in ’n kombi wat hy vir ons geleen het.

Ek onthou ek het eendag vir ’n vriend in Bethlehem in die Vrystaat gaan kuier en daar haal hy toe ’n plaat van Evita uit. Watter plaat was dit? Ons het gelê soos ons lag.

PDU: Regtig? Miskien Uyscreams with Hot Chocolate Sauce met Tessa en Thoko Ntshinga. Of die klankbaan van Skating on Thin Uys.

Daar was ook die opening van ’n rolprent wat ek bygewoon het. Ná die tyd het ek jou tante Anna M. Louw ontmoet. Dit was omtrent ’n lekker partytjie. Vertel meer van daardie rolprent.

PDU: Oil is discovered in Evita’s homeland. Pandemonium in Pretoria. President Makoeloeli (ou Pompies) agrees that the oil will go back to South Africa on the condition that her daughter Billie-Jeanne marries his son Leroy! 1985? The Shi’ite hits the fan. (Die film is ook op YouTube op die Evita se Perron-kanaal)

Baie mense het jou al uitgevra oor Evita. Hoe oud is sy nou?

PDU: Sy is 85 op 28 September. (Ek sal altyd tien jaar jonger wees as sy – wa la!)

Wat het Nelson Mandela vir haar gesê toe hy haar ontmoet het?

PDU: “Oh Evita, you look so beautiful!”

Hoekom dink jy vind daardie karakter so aanklank by mense? Dit is asof sy volksbesit soos braaivleis, rugby en onse Mimi geword het.

PDU: Sy is alombekend. Ons het almal so ’n tannie in ons lewe: familie, onderwyser, mevrou dominee. Die kern van die karakter is: Evita het geen humorsin nie, geen begrip vir ironie nie. En sy vloek nie. My Amerikaanse vriende kan nie glo hulle sit deur ’n 70 minute lange monoloog van Evita sonder een vloekwoord nie. Net “apartheid”’ en sy sê dit half binnensmonds.

Daar is sommige ouer wit mans wat ek al hoor kla het dit is nou genoeg van Evita. Ek dink glad nie so nie; sy is nou ingeweef in ons geskiedenis. Jy is ook al deur swart mense aangevat omdat jy swart karakters uitbeeld. Wat sê jy vir hulle?

PDU: Bloed onder die brug, skat.

Waar in die wêreld het jy al met Evita en haar trawante opgetree?

PDU: Sedert 1985: Engeland (Londen), Skotland (Edinburg), Nederland, Duitsland, Oostenryk, Serwië, Ierland, Moskou, Switserland, Denemarke, Kanada, die VSA, China, Australië, Namibië en Frankryk.

Is die gehore wat jy by feeste het anders as dié wat jy in die stad kry? En oorsese gehore?

PDU: Elke gehoor is anders. Maandag is anders as Dinsdag. Elke stad is anders: Joburg anders as PE. Ek sien elke performance as die eerste en die laaste.

Dink jy mense het deesdae minder begrip vir satire en ironie?

PDU: Die realiteit het oorgeneem. Trump is meer ongelooflik as satire. Covid is soms meer ironies as gevaarlik. Fake news is the glue that keeps the attention. Reality is on life-support.

Dit is asof kulturele geletterdheid ontbreek en onder die dekmantel van woke wees gereeld versmoor word. Die kunstenaar Anton Kannemeyer byvoorbeeld sit nou met ’n situasie waar die personeel in ’n kunsgalery “ongemaklik” was met sy werk. Toe word sy kunswerke sommer afgehaal.

PDU: Kompromie is die gevaarlikste ding. Laat hulle kom en afbrand, afbreek, verbied, vervloek en vrekmaak. Then pick yourself up, dust yourself off and start all over again. “Fuck them if they can’t take a joke!” (Dankie, Bette Midler.)

Jy gaan self gereeld teater toe?

PDU: Eintlik, nee, ek is te bang vir slegte ondervindings. Uit tien is nege gewoonlik horribaal. Sit naby die uitgang. Glip uit voordat jy ’n skoen na die verhoog gooi. Maar as dit goed is, kan die teater jou lewe verander!

Watter twee toneelstukke staan vir jou uit?

PDU: Onlangs in Londen, Hamilton en The Cherry Orchard.

Watter twee rolprente staan vir jou uit?

PDU: Lawrence of Arabia. Ek kyk dit elke twee maande, want dis miskien die beste onder die bestes. Judgement at Nuremburg meesal vir Dietrich, maar net om weer te onthou hoe maklik politiek ses miljoen mense kon vermoor.

Hoe lyk jou tipiese dag?

PDU: In die pandemie voel elke dag soos ’n Dinsdag! Ek staan vyfuur op, voer die drie birdfeeders en 59 soorte tuinvoëls en die kat. Lees e-pos. Werk op die rekenaar. Lees boeke. Skryf dinge. Luister na stemme wat sing en praat. Podcasts. Avoid newscasts. Sit in die son vir vyf minute en dink baie hard aan niks. Skakel die ligte nege-uur af nadat ek myself en die kat kosgegee het.

Eet jy gesond?

PDU: Ek gril vir gesond; ek eet, want dis lekker: vleis, hoender, vis een keer per week; pasta twee keer. Rooibos en beskuit vir snacks. Alkohol net van 1 Desember tot 31 Januarie. Die res van die jaar is ek droog. Babalaas en oorlewing werk nie lekker saam nie.

Die Natte het jou baie karakters gegee om mee te spot, maar uiteraard die ANC ook.

PDU: When a democratic government loses its sense of humor, it becomes a gang. It happened to the NP; it is happening to the ANC.

Jy is polities bewus — wat sien jy vir ons (SA) in jou kristalbal?

PDU: If we as citizens of a democracy, protected by a fragile constitution, do not take responsibility for the survival of what is good, the bad will dissolve all hope and a new fascism will take over. It took the Depression to bring Hitler to power. A post-Covid economic stagnation could usher the red berets into leadership and then many of us will be stranded at the Croatian border with a Pick n Pay bag in our hands. (Or a Clicks bag with some shampoo.)

Hoe hanteer jy kritiek, foute en terugslae?

PDU: Kritiek is interessant en sê meer van die skrywer as die onderwerp. Neem wat prakties is en vee jou gat af met die res. Foute bly by jou, want gewoonlik was dit omdat jy geluister het na raad en dit gevolg het. Ja, luister altyd beleefd, maar kry dan ’n tweede opinie. Terugslae? Sien dit as Take One. Dan probeer jy weer met Take Two. Dit het Marilyn Monroe soms tot 55 takes geneem om perfek te wees!

Jy is betrokke by welsyn en die opheffing van gemeenskappe in Darling. Vertel kortliks daarvan.

PDU: Ek is baie trots om deel te wees van die gemeenskap van Darling. Goeie vriende, lekker humor, skokkende feite oor werkloosheid en armoede, hoop, talent en woede. Al die dinge wat Suid-Afrikaners met mekaar behoort te deel. My leuse vir die nuwe normaal is: Let us make community the jewel in the crown of democracy. Elke demokrasie verdien die regering wat hulle het. Gebruik jou stem — en gebruik jou stem.

Wanneer open Evita se Perron weer en watter planne het jy vir die toekoms?

PDU: Evita se Perron het nuwe eienaars: Frits van Ryneveld en Hentie van der Merwe van Darling Sweet-faam het die hele Perron oorgeneem. Hulle Swartland-kombuis is nou die groot hartklop in die plek. Hulle hou die naam, die kultuur, die lekkerte van Tannie Evita se Perron. Die teater wag vir die Covid-entstof en dan kan ons weer opskop en vermaak.

Ten laaste: As jy terugkyk — kan jy ook non, je ne regrette rien sê?

PDU: I only regret the things I didn’t have the courage to confront.

Liefste Pietie

’n Paar van Pieter-Dirk se vriende in die bedryf wens hom geluk:

Nomsa Nene: “Happy birthday, Mevrou Bezuidenhout. Wishing you health, love and happiness. Ukhule uze ukhokhobe.”

Amanda Strydom: “Liefste Pietie, veels geluk, liewe maatjie! ‘n Kus op jou koeksister, dankie vir die jare se vreugde en vriendskap!”

Lizz Meiring: “My liefste Pietie, ek het jou lankal in my psige gevries as ewigdurend, totaal en al tydloos. Maar dis my wens vir jou, nie noodwendig jou wens vir jouself nie.

“Eintlik besit jy alles wat jou hart begeer, want besittings het jy nog nooit begeer nie. En besittings het jou nog nooit beïndruk of beheer nie.

“Dus, my wens vir jou sou die geskenke wees wat jou jou ware suurstof gee – om te kan aanhou skryf en skep en speel vir tot barstens toe vol teaters, slim, waarderende, oopkop gehore en lesers.

“En dan ook bevryding — die bevryding van die (selfopgelegde) las as satirikus in ons land. Jy kan nie die leiers red van waansin nie, my Pietie, jy het jou bes probeer, vir dekades al.

“Ek gun jou, wanneer dit nie konsert-hou-tyd is nie, ure op jou stoep met jou kieties wat langs en sommer bo-op jou in die son bak, die teenwoordigheid van net diegene wat jy naby jou wil hê. Ek gun jou die kleintjies van jou Darling Trust-skool wat kom nuuskierige vrae vra.

“Ek gun jou jou boeke en kykstof en selfs net tyd om jou argief te organiseer terwyl jy onbewustelik ’n classic fluit. Ek wens jou innerlike vrede, my liefste Pietie, maar hoe skep ’n mens voortdurend vlymskerp met innerlike vrede?

“Ek weet eintlik nie hoe om te definieer wat ek jou toewens nie – dalk net dit: Ek wens jou presies en in oormaat dit waarvoor jy nog altyd heimlik gewens het. Die lewe is vir ons almal kort, my Pietie.

Liefde, Jou Bokkie, Lizz

In sy eie woorde

’n Paar aanhalings uit sy memoires, Weerklink van ’n wanklank:

    “ ‘Uys dons false eyelashes and presidents listen.’ Só skryf die Los Angeles Times in 2004, ’n bewys dat sy bestaan hoewel daar nie werklik iemand soos Evita Bezuidenhout is nie.”
     “Toe Barry Hough (resensent) my een aand tydens ’n onderhoud vir Rapport in die voorportaal van die Markteater vra wat Evita se van is, sien ek ’n plakkaat teen die muur agter hom. Dit was vir The Seagull met Aletta Bezuidenhout. ‘Bezuidenhout,’ het ek geantwoord, asof dit algemene kennis is.”
     “’n Brief met ’n Italiaanse posseël? ’n Brief uit Rome? ’n Brief met haar handskrif agterop: From Sophia Loren. Ek kon dit nie glo nie! Dié superster het die moeite gedoen om persoonlik aan ’n klein poepgat van Pinelands te skryf. Ek skryf toe terug, en sy antwoord. Ek skryf weer en sy antwoord weer, en ná jare van penvriendskap kry ek daardie brief wat my lewe verander het met die onvergeetlike woorde: ‘Be brave.’”