Archived 2015 Articles by Pieter-Dirk Uys

Pieter-Dirk Uys op 70: “Aftree is ’n vloekwoord”
Pieter-Dirk Uys — oftewel Evita Bezuidenhout — word in September 70, maar van aftree is daar geen sprake nie. Waar kry hy sy energie vandaan?
– Pieter-Dirk Uys, Voelgoed, 11 September 2015

Ek is dankbaar vir die mense wat my geïnspireer het om te wees wie ek vandag is.

“Pieter, my magtag, jy gebruik sulke vieslike woorde op die verhoog. Los die politiek uit.” Dit was my pa se woorde reg aan die begin van my loopbaan. Hy was ’n wonderlike man, maar jy kan sê ons het vir lank nie baie van mekaar gehou nie, al was ons baie lief vir mekaar.

Toe ek begin geld verdien en vir hom die tjek gee, het ek bygevoeg: “As Pa nog één keer my politiek kritiseer, gaan Pa ouetehuis toe.” Daarna was hy nie meer aanvallend nie. Ons het rustig oor dinge begin praat, en hy het my ook van die waardevolste lesse in my loopbaan geleer.

Een daarvan was na afloop van ’n openingsaand waarin ek en Lizzie Meiring saamgespeel het. My pa het kom kyk. Ek het in die eerste helfte vreeslik gevloek, hoofsaaklik om die Broederbondlede in die gehoor die harnas in te jaag. By die huis het hy met ’n glas wyn gaan sit en Engels begin praat. Dit was die teken dat ek in groot moeilikheid was.

“Come, sit, ” het hy genooi, en toe gesê: “Pieter, weet jy wat, ek is so mét jou in wat jy doen, en ek wil hê dit moet uitwerk. Maar dit was skaars vyf minute toe gebruik jy al hierdie onnodige woorde. Dit was soos ’n vinger wat jy in my oog druk, en dit het my so blind van woede gemaak dat ek nie verder wou luister nie.”

Hy stel toe voor: “Hoekom gebruik jy nie daardie vinger om my agter my oor te kielie nie? En as ek so lekker kry dat ek wil sien wat my so laat voel, sal ek omdraai… en jou vinger sal my oog vind.” Met ander woorde: Don’t be obvious. Vind ’n ander manier om te sê wat jy wil sê, sodat mense pret sal hê en wíl luister. Dit was ongelooflike goeie raad, en ek pas dit vandag steeds toe.

Op skool was daar ook ’n onderwyseres wat ’n enorme invloed op my gehad het. Juffrou Aloïse Nel het vir ons Engels gegee. Sy het eendag vir ons standerd 8-klas gesê: “You must write me a poem.”

“But Miss, I can’t,” het ek geantwoord.

Sy het my in die oë gekyk en gesê: “Pieter, you can do anything. If you believe it, and work hard towards it, anything is possible.” En hier sit ek vandag. Sy was reg. Sy het my lewe daardie dag betekenis gegee. Ons was nog tot verlede jaar vriende, toe sy aan kanker oorlede is. Ek mis haar geweldig.

Haar invloed het gesorg dat ek destyds universiteit toe gegaan het met die plan om self ’n onderwyser te word. Maar op ’n dag, in ’n tou op die kampus, sien ek hierdie student met ’n sigaret in haar mond en baret op haar kop. Sy’t so glamorous gelyk, ek het dadelik gedink: “Wow, ek wil soos sý wees.”

“Wat doen jy?” het ek gevra. “Ek swot drama. Kom saam en kyk self.” Die gevolg was dat ek my B.A.-graad gelos het vir drama. Die dosent het sommer gou vir my gesê ek het nie talent as akteur nie, en my aangeraai om teaterkunde te studeer. Dit was die beste raad ooit, want dit het my die alfabet geleer van alles wat ek vandag op eie houtjie doen.

Dan was daar natuurlik ook die onmiskenbare invloed van Sophia Loren, die vrou van my drome, wie se plakkaat sedert my laerskooljare langs ’n prent van dr. H.F. Verwoerd teen my muur gehang het. Hy was die held van ons tyd. Hoe moes ons geweet het? Afrikanerpolitiek het dik deur my familie se are geloop. Dr. D.F. Malan was my pa se neef. Ek het selfs as jong laitie in die kerk se kinderkoor vir Verwoerd gesing. “Ag, Pietertjie, Doktor het dit só geniet,” het sy vrou, Betsie, in ’n brief aan my geskryf. Ek dink op ’n stadium het Verwoerd besef sy bene is nie so mooi soos Sophia s’n nie, en daar val hy toe van my muur af. Net haar prent het bly hang.

My eerste bewonderaarsbrief aan Sophia — vol “I love you’s” — het ek as 16-jarige onderdeur haar woonstel se deur in Rome gestoot. Dat sy teruggeskryf het, was mind-blowing. Om te dink dat hierdie groot Hollywood-ster die tyd afgestaan het om ’n simpel kind in Kaapstad te antwoord. Dit het my ’n belangrike les geleer: Jou gehoor en fans is ongelooflik belangrik. Moenie hulle afskeep of onderskat nie. Ek en Sophia (nou 81) is tot vandag toe goeie vriende en praat gereeld oor die foon. Soms, wanneer ek vir haar ’n nuwe DVD van Evita (nou 80) stuur, merk sy op: “H’m… I see she looks a lot like me.” Sy’s reg. Hierdie twee tydgenote is vir my die bewys dat geen vrou wat ouer word soos ’n tannie met krullers en sloffies hoef te lyk nie.

Ek is al van 1975 af “werkloos”, sonder ’n baas of vaste salaris. Balans en fyn beplanning hou my op koers.

Ek het in ’n wonderlike huis grootgeword, waar albei my ouers baie hard gewerk het. Hulle het musieklesse gegee. Ons was nie welgesteld nie, maar het mooi met ons geld gewerk. Ek onthou nog die groot respek vir die “bruin koevert” wat in die pos gekom het — ’n rekening wat betaal moes word. Tot vandag toe werk ek versigtig met geld. Geen skuld of oortrokke rekeninge nie. Ons is geleer: As jy iets wil hê, spaar en wag daarvoor; en as jy nie kan wag nie, bly daarsonder.

Na al die jare is ek steeds erg oor dissipline en struktuur. Wanneer ek die administratiewe kant van my loopbaan vooruit kan beplan, het my kreatiewe kant die ruimte om te floreer. Ek leef hierdie dissipline baie prakties uit, soos vroeg opstaan en eposse antwoord van vyfuur tot agtuur in die oggend. Daarna het ek die hele dag om aan ander dinge te bestee.

Ek werk ook streng volgens my handgemaakte dagboek (’n stapel los A4-papiere met lyne, dae en datums — tot in 2018 — wat met die hand geskryf en met highlighters ingekleur is). Ek is soos ’n standerd 5-kind met my papier en kleure. Alles word neergeskryf — van vertonings en oorsese besoeke tot die kat wat ingespuit moet word. Ek wil dit nie in my kop hou nie, want dit staan in die pad van nuwe idees. Boonop is daar geen gesukkel met opvangs of inligting wat wegraak op ’n selfoon of rekenaar nie.

Ek beplan selfs vooruit wanneer ek “mag” siek word. Uit my 7000 optredes was ek met sowat ’n duisend siek op die verhoog. But the show must go on. Dan blaai ek deur my dagboek en kyk wanneer ek ’n week opsy kan sit om in die bed te bly met ’n toe neus en seer keel. Dis my dissipline, en dit werk. Dit hou my al vier dekades aan die gang.

Wanneer mense sê ek lyk nog goed op 70, besef ek dis dalk indirek aan Evita te danke.

Die afgelope 40 jaar haal ek haar “gesig” na elke vertoning met baba-olie af. Jy kan maar sê dis my Botox. As dit reg is vir ’n baba se boude, is dit seker reg vir my gesig ook!

Ek glo ook aan gesond leef, want sonder gesondheid kan ek nie my werk doen nie. Tot op 68 was my lyf nog die wonderlikste reisieskar, maar deesdae raak ek meer bewus van my swakhede. Ek klim met meer skete en kreune uit die motor, en goed soos cholesterol moet fyner dopgehou word. Ek dink my Voortrekker-voorsate het te veel vleis geëet toe hulle oor die Drakensberge gekom het en nou sit ek met die probleem.

Eintlik kyk ek so mooi na myself ter wille van Evita. Sy gaan nie reg lyk as sy oorgewig is nie. Dit beteken dat ek, al is ek ’n chocoholic, nege jaar laas sjokolade geëet het. Dit breek my hart! Ek het wel ’n hond by die huis wat hierdie voorliefde deel. Hy hardloop gereeld Spar toe en gryp die stafies wat op die onderste rak uitgepak is. Ongelukkig is die winkeleienaar slim; die duurste sjokolade is heel onder. As ek dan die dag in die winkel kom, sê hy net: “Meneer Uys, jou hond het R350 se sjokolade opgevreet.” Dan moet ek maar uithaal en betaal.

Ek gaan ook al jare lank elke drie maande na die Hydro in Stellenbosch. Dis soos om jou motor vir ’n diens te vat. Drie dae lank sny ek myself van die buitewêreld af. Geen selfone. Net rus, slaap, gesond eet en roetine-toetse om seker te maak alles is soos dit hoort. Soms lees ek ’n boek, maar elke dag is dit dieselfde drie bladsye, want my brein skakel heeltemal af. In dié tyd slaap ek ook maklik tot 16 uur per dag. Dis die wonderlikste slaap in die wêreld, want daarna sien jy kans vir enigiets. Boonop is die Hydro, met al die ryk vroue, ’n wonderlike plek om nuwe karakters te skep. Ek kan ure sit en mense dophou. Wat hulle doen, hoe en hoekom. Wonderlike stories en intriges word op dié manier in my kop gebore.

Wat my opgewonde maak, is die besef dat my “oudisie” in die lewe verby is. Ek hoef nie meer om verskoning te vra, mense tevrede te stel of vir hulle te verduidelik wat ek bedoel nie. Party sê steeds: “Wie dink jy is jy? Probeer jy snaaks wees? Jy behoort jou te skaam…”

Op 70 kan ek antwoord: “As jy skaam is, is dit jou probleem, nie myne nie. Gaan kyk iets anders.”

Ek is nou op die ouderdom waar ek wil kanse waag en myself (en die gehoor) verras. I want to improve, but I don’t have to prove — en dís ’n wonderlike posisie om in te wees.

As jy lus is vir lag, maak seker jy bespreek vir An Audience with Pieter-Dirk EISH by die Pieter Toerien-teater, Montecasino (Sept/Okt), of by die Theatre on the Bay in Kaapstad (Nov 2015). Aan die einde van die jaar is die musiekblyspel van die immergewilde Die Van Aardes van Grootoor ook op die planke (Theatre on the Bay). Besoek www.pdu.co.za vir meer inligting.