Home About Events Issues Plays Articles Interviews Reviews Video Photos Archives
Articles by
Pieter-Dirk Uys

webmaster

(additional articles by PDU can be found in the Archives)

<  previous   next >

O, Bambi!

Wat gemaak as jou memoir se heldin net in ’n kartondoos bestaan, wonder Pieter-Dirk Uys

– Pieter-Dirk Uys, Beeld, 2 October 2011

 

Ek verslind lewensverhale soos ’n vet kind in ’n koekwinkel. Outobiografieë is bo-aan my lys.

 

Om te herleef wat ’n skrywer self oor haar of sy lewe onthul, is natuurlik nie die hele waarheid nie.

 

Feite is te dikwels vervelig en ordinêr. ’n Bietjie kerriepoeier help om die bladsye te laat blaai.

 

Biografieë, aan die ander kant, is soms so oorlaai met die korrekte datums en versigtige oorvertel van ander se skinder dat jou oog soms vinnig middel-van-die-blad afrits om oor die knoppe en skroewe van daardie droë lewe te vlieg.

 

’n Memoir is die ideaal. Daar hoef nie korrekte datums te wees of ’n literêre logika wat die handeling verstop nie.

 

’n Memoir is soos daardie skielike reukie in die straat wat jou terugvoer na ’n eerste oomblik, ’n seldsame ontmoeting, ’n triomf of skande.

 

Dis ’n oppervlak wat met passie gevlek word in helder kleure.

 

Biografie is Rembrandt; memoir is Picasso — effens roekeloos, heerlik ondeund, tong-in-die-kies. Soms ook eg persoonlik, soms gevaarlik onkorrek. Wat ook beteken ’n wit leuentjie kan ’n lang lees korter maak.

 

Gewoonlik gaan ’n lewensverhaal oor die bestaan van iemand in die geskiedenis, die samelewing of politiek: rolprentster, staatsman, kunstenaar, heldin of legende wat wel asem geskep het, ’n ruimte gevul het met lewe en lus.

 

Nou net voetspore saamgevee in die reghoek van ’n boekblad.

 

Maar wat as 390 bladsye gaan oor heldinne wat nie bestaan nie? Wat wel skouer aan skouer staan met karakters wat wel hier was?

 

Bambi Kellermann se storie strek van 1956 tot 2010 en lees soos ’n James Bond-riller gepen deur Lady Chatterley se geliefde.

 

’n Boeremeisie, blond en dierbaar, gebore Baby Poggenpoel in Bethlehem in die ou Vrystaat.

 

Toe oorsee met haar oorgewig sussie Evangelie, waar die poppe kaal begin dans het. Daarom die boek se titel: Never too Naked …

 

Bambi trou met ’n Duitse edelman en vind eers daarna uit hy was kommandant van ’n Nazi-konsentrasiekamp.

 

Sy moet geld verdien en doen toe wat natuurlik is vir sommige Boere-meisies: strip poedelkaal en dans! In Hamburg, Amsterdam, Londen, Marseilles, Parys en Berlyn …

 

Haar pad kruis met die wel en weë van ware supersterre: pres. Kennedy en Marilyn Monroe, Marlene Dietrich, Picasso, Hemingway, Chris Barnard, Ava Gardner, Nelson Mandela, Charlize Theron.

 

En uiteindelik op ’n koue klipbank êrens in Oos-Berlyn ontmoet sy die suster wat sy so lank laas gesien het.

 

Evangelie Poggenpoel is nou Evita Bezuidenhout. Dit was die eerste en laaste ontmoeting tussen die twee sterk vroue. Sustertwis het uitgebreek en woed tot vandag voort.

 

Bambi se verhaal neem haar deur Paraguay en sy neo-Nazi’s, Hollywood met haar neo-godinne en uiteindelik tot in die Paarl met sy neo-Demokrate, waar sy tans ’n wynproe-kelder bestuur.

 

Maar moenie alles glo nie. Dis ’n bordeel waar soesji op ’n kaal lyf ten duurste voor die ANC-hoës geplaas word.

 

Wat is dan waar? Wie is dan waar? Die meeste van die bykomende karakters is alombekend, maar die hoofspelers is in Suid-Afrika beroemd al bestaan die twee Poggenpoel-susters nie. Ek weet.

 

Bambi en Evita is albei stil in die kartondoos onder my bed. So wat is Never too Naked se kategorie? Outobiografie? Memoir? Lewensverhaal? Fantasie? Kyk self en waag soms meer as ’n tong in die kies!

 

<  previous   next >

top