Home About Events Issues Plays Memoirs Articles Interviews Reviews Video Photos Archives
Articles by
Pieter-Dirk Uys

webmaster

(additional articles by PDU can be found in the Archives)

<  previous   next  >

Deesdae is elke dag Dinsdag

Maar hou jou potlood skerp Die satirikus Pieter-Dirk Uys skryf oor wat dit vir ’n kunstenaar beteken om geen gehoor te hê as al die teaters toe is nie.

– Pieter-Dirk Uys, Beeld, 6 June 2020

 

Pieter-Dirk Uys ingeperk! Die meeste van ons wat in die kunste leef en beef, is gewoond aan inperkings.

 

As ons iets skryf, is dit gewoonlik met so min onderbrekings as moontlik. As ons skilder, is die deur gewoonlik toe en soms gesluit. Ons repeteer in ’n kamer met 100% konsentrasie aan ’n toneelstuk, sonder geraas of opwinding van buite.

 

Ons huidige inperking het net een unieke giftige angel: ’n onsigbare gogga wat doodmaak. Ons is ook soms gewoond aan “sosiale afstand”, behalwe vir daardie heerlike aande van ontspanning ná ’n vertoning. Dan kan ons ten minste aan mekaar raak, omhels, liefdevol streel en onversigtig hoes of nies. Drama, darling, drama!

 

Ek word gevra: Wat doen ek gedurende Covid-19? Ek sien om baie redes uit van dag na dag. Om verder vorentoe te dink, is om te vra vir moeilikheid. Niemand weet wat in die toekoms kan gebeur nie.

 

Jou verbeelding neem oor en voordat jy jouself kan beteuel, het jy jou komende begrafnis soos ’n Wagner-opera uitgewerk.

 

Ek sien uit na die nuwe dag, want ek steek my tong uit en dis nie koorsagtig nie. Daar is geen droë hoes nie. My keel is oukei. Dankie tog, vandag gaan ek beslis nie dood nie! Was weer die hande!

 

En môre? Die hele roetine weer van voor af. Hallo, dag, hallo, tong, hallo, tyd.

 

Dis wat raar is, nuut en onverwags: tyd. Gewoonlik in die normale verlede was daar ook tyd, maar dit was meesal tyd vir ander. Ontmoetings, meetings, besoeke, onderhoude, stiptelikheid, verkeer, beplanning — en jou dag is vinnig vol. En vir toneelspelers is die aand oop vir ’n wêreld wat betaal.

 

Die gehoor! Sonder hulle praat jy met jouself.

 

So, is dit al wat ek doen in die inperking? Ja, ek praat met myself deur die maande van Dinsdae. Elke dag voel soos ’n Dinsdag. Elke week het sewe Dinsdae.

 

Jy leer om sekere dinge te vermy. Televisie is toksies. Nuus is so skokkend jy huil. Maar jy kan niks daaraan doen nie. Duisende gaan dood. Derduisende is siek. Miljoene gaan sterf. Miljarde wag vir hul beurt.

 

Maar jou katte moet eet. Die duif is besig op haar nes met twee eiertjies. Die honde wil lag en lek. Die natuur blom soos lanklaas gesien.

 

En jy besef dit gaan nie net oor jou nie.

 

Teater sit ook ingehok en afgesonder. Spelers wag met ’n mondvol woorde. Almal is gereed vir werk, lus vir werk, hoop op werk — en werk is net so lus vir ons, maar ons kan nie. Mag nie. Durf nie.

 

Soos met virtuele omhelsings speel ons nou virtueel op die verhoog van ons verbeelding. Hoekom? Want wat ons doen, is regstreeks. LIVE! Al die ander vermaaklikhede is in blikkies of op band of in ’n wolk.

 

Die ná-korona-wêreld is iets wat niemand kan voorspel nie. ’n Nuwe normaal van maskers en ses-treë-tussen? Van hande was en nooit aanraak nie, net bang wees vir lug? Môre se vermaakalfabet? Sal teater, soos ons in die teater dit ken en doen en onthou en koester, ooit weer wees soos dit was?

 

Wie weet. Teater is al 2 000 jaar die hartklop van hoop. Daar sal altyd teater wees en nie net altyd in ’n hospitaal nie. Hoop ons sal ook mag saamspeel.

 

Dus, hou jou potlood skerp, skrywer. Die internet kry ook onsigbare goggas.

 

Werk aan jou monoloog, akteur, want as die klok agtuur slaan, sal dit miskien weer gordyn-op-tyd wees.

 

Dit gaan alles oor stories. En ons stories van die laaste paar maande is seker die rykste veld van inspirasie, tragedie, belaglikheid, hoop, vrees en viering ná menige eeue van daardie selle ou onsigbare dodelike goggas.

<  previous   next  >

 

top