webmaster

Archived 2008 Articles

 by

Pieter-Dirk Uys


<  previous   next  >

HELGA BASSEL:   ’n Ode aan my ma

Pieter-Dirk Uys, Die Burger, 9 August 2008


Vrouedag omhels elke vrou. Ek dink aan die een vrou wat elke dag aan my gegee het. Sy’t gelyk soos Nee, laat ek weer beskryf. Die rolprentster Ingrid Bergman het na haar gelyk. Soms, op vroeër foto’s, was die koningin van Engeland ook ’n ewebeeld van Helga Maria Bassel.


My ma is in Berlyn gebore en het tydens daardie kraakglas-republiek van Weimar daar grootgeword. ’n Gespanne politieke tyd soos ons ook beleef, waar alles moontlik was, maar waar korrupsie en geweld die pad oopgekap het vir die era van Adolf Hitler.


Helga was ’n pianis van formaat. Jonk, energiek, vasgevang in die passie van ’n Berlyn wat toe al uit die asse van ou drome na iets buitengewoons wou verrys.


Maar sy was Joods. Haar eg-Duitse verloofde was nie. Hy’t haar gevra om te vlug. Sy’t geweier. Haar musiek was haar meester.


Ek sit en kyk na ’n brief voor my. Dit is in Augustus 1935 geskryf en is uit die kantoor van die Nazi-Reichs­kulturkammer in Berlyn. In ’n paar sinne vernietig dit ’n lewe. Weens die feit dat sy Joods is, mag Helga Bassel nie langer in die openbaar klavier speel nie.


Sy het die verbod geïgnoreer, en uiteindelik het haar vriende haar in 1938 oorreed om vir ’n paar maande na Suid-Afrika te gaan.


Haar verloofde het wel haar ouers al daarnatoe gestuur.


“Die Nazi-ding sal hier net ’n paar maande duur. Hulle kan mos nie al die Jode verban nie.” Knap laaste woorde. Verban was ook nie wat die Nazi’s in gedagte gehad het nie.


Helga is Kaap toe met groot verlange na Berlyn. Haar eerste werk as pianis in die skadu van Tafelberg was om ’n tweeklavier-concerto te speel met ’n jong Afrikaner-pianis, Hannes Uys.


Hulle het verloof geraak en getrou, en ek het ’n persoontjie geword.


Die jaar 1945 is my geboortejaar, die tyd toe haar geboorteland deur die wêreld in vlam en as verander is.


Daar is nog ’n brief wat ek het: “Ek sit hier in De Waalpark met my klein kind. Blond en dierbaar. Ek kan nie glo wat gebeur waar julle is nie. Leef julle nog?”


Ses jaar later kom die antwoord. “Ja.”


Sy is in 1958 terug na Berlyn om te sien wat oorgebly het. ’n Hel. Stel jou voor die plek van jou drome as ’n grafkelder. Sy het nooit daarvan herstel nie. Helga is in 1969 dood, afgespring van die hoogste rotse van Chapmanspiek. Tafelberg is haar grafsteen.


Wie kan dit verwerk? Selfmoord is volgens ons NG Kerk-geloof ’n sonde sonder ontsonding. Nonsens. Dis ’n uitwissing aan die einde van ’n tragiese pad. ’n Realiteit. Ek sal haar besluit nooit verstaan nie, maar jy moet respek hê vir daardie donker oomblik, daardie geloof. Om so af te spring is nie iets vir sissies nie.

Helga is weg. Vir altyd sal haar prent voor my wees, sonder gesig, net ’n bebloede raam om ’n donker vierkant. Maar dis waar sy was, en ek gee haar die respek, liefde en verlange wat haar lewe vier.


Dis eers tóé dat ons agtergekom het sy was Joods. Ná al die jare van saamwoon, in ’n huis met soveel deernis, liefde en vryheid van deel, was daardie een aspek totaal verberg. Ons het Joodse vriende gehad. Hulle moet geweet het. Ou Duitse ooms en tannies met telefoonnommers op hul polse uitgekerf, oorlewendes van konsentrasie-kampe uit Hitler se nagmerrie.


Niemand het ooit gepraat van daardie feite van ons wortels nie. Afrikaans aan die een kant, ja. Joods aan die ander? Ek is nou so bly daaroor en is nou deel van albei uitverkore volkere.


Helga Bassel was altyd elegant. In die sestigerjare het ons elke Dinsdag in ’n koffierestaurant in Kaapstad byeengekom. Ek ’n langhaarstudent, uit die huis gesmyt deur my pa, wat gedink het ek is ’n kommunis. Kry Ma vir koffie, praat en warmte. En sy loop in soos ’n filmster, en almal kyk met waardering en stem saam: Ingrid Bergman lyk nes sy.


Ek het op skool haar sigarette gesteel. Een per week. Later het sy met ’n glimlag vertel dat sy geweet het. En dit laat gebeur. Liewer een per week uit haar voorraad as ’n hele 30 uit die winkelrak.


Haar selfmoord was weens depressie en ’n skildklierprobleem. En ’n jong dokter wat nie gesê het haar nuwe pille sal haar so afdruk voordat hulle haar sal opbeur nie. Dis op daardie afdruk-oomblik dat sy besluit het haar toekoms is net ’n las op dié wat sy liefhet.

Sy’t haar Blüthner-klavier uit Berlyn saamgebring in die swart-en-wit jare van Hitler se hel. Ons is om daardie klavier grootgemaak. My suster, Tessa, het gespeel; ek het my toneelstukke daarop geskryf. Die ronde kol van die wynglas is nog op die blink, swart lyf te sien.


Vandag staan daardie klavier weer in Berlyn, in die Joodse Museum as deel van ’n uitstalling oor “Tuiste en Ballingskap”. Elke jaar speel Tessa ’n uitvoering op haar ma se klavier in haar ma se ou stad. En ek doen ’n vertoning om daardie klavier, weer op 24 Augustus.


A (Jewish) Boer in Berlin bevat plaaslike politieke realiteite, ’n bietjie vrot Duits, ’n smakie Afrikaans, 12 karakters en ek, nou 63 jaar oud.


Steeds daardie kind wat nooit geoefen het nie, maar sonder klawers met woorde musiek moet maak.


Dit is 1958. Ek en Tessa is saam met Ma op pad na die eisteddfod in Kaapstad. Tessa gaan klavier speel; ek gaan sing. Pa wil hê ons moet wen. Ons is baie senuweeagtig. Ma lag vir ons.


“Toemaar, as julle wen, kry julle ’n roomys. As julle nie wen nie, twee roomyse elk!”


Vandag is Helga se dag, hierdie dag vir alle vroue. Soos elke dag met twee roomyse.


<  previous   next  >


top