webmaster

Archived 2016 Articles about  Pieter-Dirk Uys

<  previous   next  >

‘Prys wys ek is nog hier’

– AJ Opperman, Beeld, 1 October 2018


Die veteraansatirikus PieterDirk Uys beskou sy ontvangs van die Savanna Comics’ Choice-prys vir lewenslange bydrae as die bewys dat hy ondanks al die dongas en versperrings in die lewe nóg hier is.


“Ek sê dankie en die lewe gaan aan.”


Die bordjies is Vrydagaand verhang in Melrose Arch, Johannesburg, toe daar op die Comics’ Choice se Grilling of a Lifetime — geleentheid vir ’n verandering met Uys en sy alter ego Evita Bezuidenhout gespot is. Lizz Meiring, Jefferson Tshabalala, Rob van Vuuren, John Vlismas en Mark Banks was die lede van dié paneel grillers.


Uys het onlangs ook die Hertzogprys ontvang vir Stukke teater, “met inagneming van sy hele oeuvre” — aldus die SuidAfrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Stukke teater bestaan uit vyf teatertekste wat die bekende Die Van Aardes van Grootoor insluit.


Stukke soos Die Van Aardes van Grootoor het hom in die verlede met die sensuurraad swaarde laat kruis.


“Ek en die Akademie vir Wetenskap en Kuns het nooit om dieselfde woordeboek gesit nie.


“Destyds was hulle skaamteloos betrokke by die verbanning van Afrikaanse boeke, dramas en uitings. Maar nou is daardie ou donders dood en die jonger geslag het my ná 40 jaar ontdek, en ek is dankbaar dat Stukke teater waardeer word.


“Nou moet ons sien hoe die dramas opgevoer word, want daarsonder beteken hulle soveel soos ’n padkaart vir iemand wat nie motor bestuur nie.”


Uys leef allermins vir pryse en benoemings. ’n Eregraad deur ’n universiteit maak hom bewus van die werklikheid van sy werk en lewe. Dit maak hom soms ook bang, want hy wil nie teleurstel nie.


“Die ander maak my net bang wanneer die wind waai en die rakke skud en die goed op die kat val! Pryse kan soms soos verkeersbiljette op die windskerm van jou lewe lyk.


“Maar die mense wat dit vir my gee, glo in my werk en wese, en ek sal dit altyd baie waardeer.”


Volgens Uys is oorspronklikheid ’n belangrike woord vir die toekoms van komedie.


“Dat die meerderheid Afrikakomediante vir my gestem het (vir die Comics’ Choice-prys), maak my baie trots. Ek hoop ek maak dit baie moeilik vir hulle om in my voetspore te volg, want die toekoms het nie naapers nie. Een van my is genoeg. Ons wil nie nou ’n trop Trevor Noahs ontdek nie. Vind jou eie stem en gil.”

  <  previous   next  >

top