webmaster

Archived 2016 Articles about  Pieter-Dirk Uys

<  previous   next  >

Pieter-Dirk Uys betower jong dramaturge

– Mariana Malan, Die Burger, 6 September 2018


Gister se swartskaap is vandag se Hertzogprys-wenner. En selfs met een van die grootste letterkundige pryse in die sak, het hy nog tekste in ’n boks onder sy bed.


Pieter-Dirk Uys kan nie help om in sy mou te lag vir die ironie nie. In gesprek met Marthinus Basson by die pas afgelope Teksmark wat Maandag en Dinsdag in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad gehou is, het hy aspirantdramaturge en -teksskrywers bemoedig met wat hulle kan bereik met hardkoppige volharding en ’n stewige skeut humor.


“Die teks is totaal onbelangrik,” het hy hulle ingelig. “Dis die storie wat tel. Jou teks is die privaatste ding op aarde. Moenie te haastig wees om dit sommer met enige iemand te deel nie en moenie bang wees vir mislukking nie. Dis die sement vir die muur waarop jy eendag jou pryse gaan pak.”


Op tipiese Uys-manier het hy verskeie mites aangeraak.


“Skrywersblok? Nee wat, dit is eintlik maar net die skrywer se ego wat hier betrokke is. Wees bly as daar oomblikke van stilte kom. Moenie sentimenteel wees oor jou skryfwerk nie. Skryf wat jy moet, sny dan die helfte en dan nog 50%.


“Pas op vir selfsensuur. Dis die ergste virus wat daar is en daar is nie ’n teenmiddel nie.”


Met groot deernis het hy ’n student se vraag beantwoord oor hoe hulle dit in die bedryf kan maak.


“Die laaste ding wat die wêreld nodig het, is nog ’n aktrise. Elke mens het ’n unieke talent wat benut moet word. Wees jouself en ontwikkel wat jy het. Moenie spesialiseer nie en moenie bang wees om jou hande vuil te maak nie. As dit nodig is om die verhoog te skrop, doen dit.


“En moenie bang wees vir mislukking (nee, dis eintlik nie-sukses). Jy mag ook nie bang wees om alleen te wees nie.”


Uys het die gehoor vermaak met staaltjies uit sy unieke en interessante loopbaan. Hoe onmoontlik van die vertellings ook al vir jong skrywers van vandag geklink het, Basson kon van alles getuig. Hy het vertel van die eerste dae van die Ruimte-teater – die enigste plek in die land waar in die tyd van apartheid gemengde rolverdelings was vir gemengde gehore, van klopjagte deur die veiligheidspolisie en planne wat hulle gemaak het om vervolging te ontduik.


“Moet nooit ’n opvoering kanselleer nie, respekteer jou gehore, lag oor dinge wat nie snaaks is nie en bly positief. Ek is self ’n terminale optimis. Alles wat ons in die teater doen is totaal mal. As iemand vir jou sê jy is besig met nonsens, moet jy weet jy is op die regte pad.”


Pieter-Dirk Uys ontvang vanjaar op 21 September in Stellenbosch van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys vir drama vir Stukke teater, maar met inagneming van sy hele oeuvre.


 <  previous   next  >

top